hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

Negemyah 2 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Toe het dit gebeur in die maand Nisan (1ste Maand) van die twintigste jaar van Artag’shashta, die koning, dat ek wyn voor die koning bedien het en ek het die wyn opgetel en aan die koning gegee. Ek was nog nooit vroeër bedroef in sy teenwoordigheid nie;

2. daarom het die koning vir my gevra: “Waarom is jou voorkoms bedroef, aangesien jy nie siek is nie? Dit is niks anders as hartseer nie.” Toe was ek uitermate bang

3. en het aan die koning gesê: “Mag die koning vir ewig lewe! Waarom sou my voorkoms nie bedroef wees nie terwyl die hoofstad van die koninkryk van my vaders in puin lê en sy poorte deur vuur verbrand is?”

4. Toe vra die koning vir my: “Waarvoor het jy begeer en gebid voor die God van die hemel?”

5. Ek het vir die koning gesê: “As dit die koning plesier en as u dienskneg guns in u oë gevind het, stuur my dan na Y’hudah, na die stad van Dawid, na my vaders se grafte sodat ek dit kan herbou.”

6. Toe vra die koning vir my, met die koningin langs hom: “Hoe lank sal jou reis duur en wanneer sal jy terugkom?” Dit het die koning plesier om my te stuur en hy het vir my ’n tyd bepaal.

7. Ek het ook vir die koning gesê: “As dit die koning behaag, kan hulle vir my briewe saamgee aan die goewerneurs wes van die Eufraat, dat hulle my mag vergesel totdat ek in Y’hudah kom,

8. asook ’n brief aan Asaf, opsigter van die koning se woud, dat hy vir my hout mag gee om die balke van die poorte van die tempel, die vesting en die mure van die stad te maak en vir die huis waarin ek sal bly.” Die koning het dit aan my toegestaan volgens die goeie hand van my God oor my.

9. Ek het by die goewerneur gekom wes van die Eufraat en die brief van die koning aan hom gegee. Die koning het ’n bevelvoerder van die perderuiters saam met my gestuur,

10. maar toe Sanvallat, die Horoniet en Toviyah, die `Ammonitiese kneg, daarvan hoor, dat iemand gekom het om na die welstand van die seuns van Yisra’el om te sien, was dit vir hulle boos.

11. Ek het in Yerushalayim gekom en was drie dae daar

12. en ek en die manne wat saam met my gekom het, het opgestaan in die nag en ek het niemand vertel wat my God in my verstand, wil en emosie gegee het om in Yerushalayim te doen nie en daar was ook geen dier by my nie, behalwe die dier waarop ek gery het.

13. Ek het in die nag by die Valleipoort uitgegaan in die rigting van die Draakfontein en na die Mispoort toe en ek het na die mure van Yerushalayim gekyk wat afgebreek is en sy poorte wat deur vuur verbrand is.

14. Toe het ek verder gegaan na die Valleipoort en na die Koning se poel, maar daar was geen plek vir die dier wat ek gery het om verby te gaan nie.

15. Toe het ek in die nag in die vallei opgegaan en na die muur gekyk en teruggedraai en ingegaan deur die Valleipoort en so teruggegaan.

16. Die outoriteite het nie geweet waar ek heengegaan het en wat ek doen nie en ek het dit ook nog nie vir die Y’hudahiete, of die priesters, of die goewerneurs, of die skrywers en die ander wat die werk moes doen, vertel nie.

17. Toe het ek vir hulle gesê: “Julle sien die benoudheid waarin ons is, want let op, Yerushalayim lê verwoes en sy poorte is met vuur verbrand; kom, laat ons die muur van Yerushalayim bou sodat ons nie langer ’n bespotting sal wees nie.”

18. Toe het ek hulle vertel van die hand van my God wat goed was oor my en ook van die woorde van die koning wat hy vir my gesê het. Hulle het gesê: “Laat ons opstaan en bou!” Hulle het hul hande versterk vir hierdie goeie werk,

19. maar toe Sanvallat, die Horoniet en Toviyah, die `Ammonitiese kneg en Geshem, die Arabier, dit hoor, het hulle uit spot vir ons gelag en spottend gesê: “Wat is hierdie ding wat julle doen? Miskien rebelleer julle teen die koning?”

20. Toe het ek hulle geantwoord en gesê: “Die God van die hemele, Hy gee aan ons voorspoed en daarom werk ons, staan ons vas en bou, maar julle het geen deel, geen reg en geen herinnering in Yerushalayim nie.”