Ou Testament

Nuwe Testament

Negemyah 13:1-11 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Op daardie dag, toe die boekrol van die wet van Moshe ten aanhore van die volk voorgelees is, is daarin gevind dat daar geskryf is dat die `Ammoniet en die Mo’aviet vir ewigheid nooit die vergadering van God mag inkom nie

2. omdat hulle nie die seuns van Yisra’el met brood en water ontmoet het nie, maar vir Bil’am gehuur het om hulle te vervloek, maar ons God het sy vloeke in seëninge verander.

3. Toe hulle die woorde van die wet hoor, het hulle al die gemengde menigte uit Yisra’el afgesonder.

4. Voor dit het Elyashiv, die priester, gekom en vir Toviyah ’n groot vertrek gebou,

5. waar hulle vroeër die graanoffers, die wierook en die houers wat die tiendes graan bevat, die wyn en olie, wat beveel was om aan die Leviete, die sangers en die poortwagters gegee te word en die offers vir die priesters, gesit het.

6. Terwyl hierdie dinge gebeur het, was ek nie in Yerushalayim nie, want in die twee en dertigste jaar van Artag’shashtra, koning van Bavel, het ek na die koning gegaan en ná sekere dae het ek toestemming van die koning gevra

7. en na Yerushalayim gekom en die boosheid gehoor wat Elyashiv gedoen het, deur vir Toviyah ’n kamer in die hof van die huis van God in te rig.

8. Dit het my uitermate ontstel; ek het Toviyah se huisraad dus op die straat uitgegooi, buite die hof.

9. Toe het ek beveel en hulle het die vertrek gereinig en ek het die houers van die huis van God, die graanoffer en die wierook daarin teruggebring.

10. Ek het ook gehoor dat die Leviete se deel nie aan hulle gegee is nie en dat die Leviete, die sangers en die wat die dienswerk verrig, elkeen na sy grond toe gevlug het.

11. Toe het ek met die leiers getwis en gesê: “Waarom is die huis van God verwaarloos?” Ek het hulle bymekaar laat kom en hulle op hulle plek gesit.

Lees volledige hoofstuk Negemyah 13