Ou Testament

Nuwe Testament

Nagum 3:10-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. Nogtans het sy ’n balling geword, sy het in gevangeskap gegaan; ook haar klein kindertjies is op elke straathoek in stukke geslaan; hulle het die lot gewerp vir haar edelmanne en al haar groot manne is met kettings geboei.

11. Ook jy sal dronk word, versluierd wees. Jy sal ook ’n toevlug soek van die vyand.

12. Al jou vestings is vyebome met ryp vye; wanneer geskud word, val hulle in die mond van die eter.

13. Let op, jou volk in jou midde is soos vroue. Die poorte van jou land is wyd oopgemaak vir jou vyande; vuur het jou poortgrendels verteer.

14. Trek vir jou water op vir die beleëring! Versterk jou vestings! Gaan in die klei in en trap die klei, gryp die steenvorm.

15. Vuur sal jou daar verteer, die swaard sal jou neervel; dit sal jou verslind soos die sprinkane. Vermenigvuldig jouself soos die voetgangersprinkaan, vermenigvuldig jouself soos die treksprinkane.

16. Jy het jou handelaars vermeerder, meer as die sterre aan die hemel; die voetgangersprinkaan vervel en vlieg weg!

17. Jou wagters is soos treksprinkane en jou amptenare is soos swerms sprinkane wat op ’n koue dag op die klipmure sit. Die son kom op en hulle vlug en niemand weet waar hulle is nie.

18. Jou herders slaap, o koning van Ashur; jou edeles lê plat. Jou volk is op die berge verstrooi en daar is niemand om hulle weer bymekaar te maak nie.

Lees volledige hoofstuk Nagum 3