Ou Testament

Nuwe Testament

Nagum 1:7-15 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

7. יהוה is goed, ’n vesting in die dag van moeilikheid en Hy ken die wat by Hom skuil,

8. maar met ’n oorstromende vloed sal Hy ’n volkome einde maak aan die plek van Sy vyande en duisternis sal Sy vyande agtervolg.

9. Wat julle ook al beraam teen יהוה, Hy sal ’n volledige einde maak daaraan. Benoudheid sal nie twee maal opstaan nie.

10. Soos ineengevlegte dorings en soos hulle wat dronk is van hulle drank, is hulle verteer, soos stoppels volkome verwelk.

11. Vanuit jou het een uitgegaan wat boosheid teen יהוה beraam het, ’n bose raadgewer.

12. So sê יהוה: “Alhoewel hulle volsterkte is en ook baie, nogtans sal hulle afgesny word en vergaan. Alhoewel Ek jou beproef het, sal Ek jou nie meer beproef nie.

13. Nou sal Ek sy juk van jou af verbreek en jou stroppe afskeur.”

14. יהוה het ’n bevel uitgevaardig aangaande jou: “Jou naam sal nie langer verewig word nie. Ek sal afgod en beeld uit die huis van jou gode uitroei. Ek sal jou graf voorberei, want jy is veragtelik.”

15. (2:1) Let op, op die berge is die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid aankondig! Vier jou vasgestelde feeste, o Y’hudah; betaal jou geloftes, want die bose sal nooit weer teen jou oortree nie, want hy is volkome vernietig!

Lees volledige hoofstuk Nagum 1