hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7

Ou Testament

Nuwe Testament

Mikhah 6 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Hoor en gee nou ag op wat יהוה sê: “Staan op, pleit jou saak voor die berge en laat die heuwels jou stem hoor.

2. Luister, julle berge, na die aanklag van יהוה en julle standvastige fondasies van die aarde, want יהוה het ’n saak teen Sy volk; Hy sal selfs met Yisra’el verskil.

3. My volk, wat het Ek aan jou gedoen en hoe het Ek jou vermoei? Antwoord My!

4. Inderdaad, Ek het jou uit die land van Mitzrayim gebring en jou uit die huis van slawerny losgekoop en Ek het Moshe, Aharon en Miryam voor jou uitgestuur.

5. My volk, onthou nou wat Balak, koning van Mo’av beplan het en wat Bil’am, die seun van B’or, hom geantwoord het, vanaf Sheetim tot by Gilgal sodat jy die onpartydige en opregte dade van יהוה kan ken.”

6. Waarmee sal ek na יהוה toe kom en my neerbuig voor die God daar bo? Sal ek na Hom toe kom met brandoffers, met kalwers in hul eerste jaar?

7. Skep יהוה behae in duisende ramme en tien duisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my rebelse dade, die vrug van my liggaam vir die sonde van my lewe?

8. O mens, Hy het aan jou verklaar wat goed is en wat vra יהוה anders van jou as om regverdig te oordeel, goedheid lief te hê en nederig saam met jou God te loop?

9. Die stem van יהוה sal tot die stad roep en dit is suiwer wysheid om U Naam (Karakter en Outoriteit) respekvol te vrees: “Hoor en gee ag, o stam, Hy wat teen jou getuig.

10. Is daar steeds ’n man in die bose huis, met skatte van boosheid en ’n kort maatstaf van misleiding?

11. Kan Ek bose weegskale regverdig en ’n sak vol bedrieglike gewigte?

12. Die rykes in die stad is vol geweld, haar inwoners praat leuens en hulle tonge is misleidend in hulle monde.

13. So sal Ek jou ook siek maak, jou neerslaan, jou verwoes weens jou sondes.

14. Jy sal eet, maar nie versadig word nie en jou slegtigheid sal tussen jou wees. Jy sal probeer wegsit vir bewaring, maar jy sal niks bewaar nie en dit wat jy bewaar sal Ek aan die swaard oorgee.

15. Jy sal saai, maar nie maai nie; jy sal olywe uittrap, maar jouself nie met olie salf nie; die druiwe pars, maar jy sal nie wyn drink nie.

16. Die instellings van `Omri word onderhou en al die werke van die huis van Ag’av word nagekom en julle loop ooreenkomstig hulle planne; daarom sal Ek julle oorgee tot verwoesting en jou inwoners tot bespotting en julle sal die spot van My volk dra.”