hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Mal'akhi 1 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Die profetiese openbaring van die boodskap van יהוה aan Yisra’el deur Mal’akhi:

2. “Ek het julle liefgehad,” sê יהוה, maar julle vra: “Waarin het U ons liefgehad?” “Was `Esav nie Ya’akov se broer nie?” verklaar יהוה. “Tog het Ek Ya’akov liefgehad,Rom 9:13

3. maar Ek het `Esav gehaat en Ek het sy berge ’n verlatenheid gemaak en sy erfenis aan die jakkalse van die wildernis gegee.”

4. Alhoewel Edom sê: “Ons is neergeslaan, maar ons sal terugkom en die puinhope opbou,” sê יהוה-Tzva’ot: “Hulle mag bou, maar Ek sal dit afbreek en mense sal hulle noem: ‘Bose grondgebied,’ en: ‘Die volk waaroor יהוה verontwaardig is vir ewig!’”

5. Julle oë sal dit sien en julle sal sê: “יהוה word groot gemaak buite die grense van Yisra’el!”

6. “’’n Seun eer sy vader en ’n dienskneg sy meester. As Ek dan ’n Vader is, waar is My eer? As Ek ’n Meester is, waar is My respekvolle vrees?’ sê יהוה-Tzva’ot vir julle, o priesters wat My Naam (Karakter en Outoriteit) verag! Julle sê egter: ‘Waardeur het ons U Naam (Karakter en Outoriteit) verag?’

7. Julle bring onrein kos op My altaar, maar julle vra: ‘Waardeur het ons U onteer?’ Deurdat julle sê: ‘Die tafel van יהוה is veragtelik.’

8. Wanneer julle egter die blinde as offer aanbied, is dit nie boos nie? Wanneer julle die kreupele of sieke aanbied, is dit nie boos nie! Hoekom dit nie aan julle goewerneur offer nie! Sal hy gelukkig wees met julle of julle goedgesind ontvang?” vra יהוה-Tzva’ot.

9. “Sal julle egter nie nou God se guns afsmeek dat Hy goedgunstig tot ons kan wees nie? Met so ’n offer van julle kant af, sal Hy enige van julle goedgesind wees?” vra יהוה-Tzva’ot.

10. “Ag, was daar maar iemand onder julle wat die deure wou sluit sodat julle nie tevergeefs vuur op My altaar kan aansteek nie! Ek is nie tevrede met julle nie,” sê יהוה-Tzva’ot “en Ek sal ook nie ’n offer uit julle hand aanvaar nie,Yog 4:23

11. want van die opkoms van die son tot by sy ondergaan, sal My Naam groot wees onder die nasies en in elke plek sal wierook en ’n rein graanoffer tot eer van My Naam (Karakter en Outoriteit) geoffer word, want My Naam (Karakter en Outoriteit) sal groot wees onder die nasies,” sê יהוה-Tzva’ot.

12. “Julle verontreinig dit egter deurdat julle sê: ‘Die tafel van יהוה is onteer en wat sy opbrengs betref, sy kos is veragtelik.’

13. Julle sê ook: ‘Ag, hoe vermoeiend is dit!’ Julle snuif veragtend daarvoor,” sê יהוה-Tzva’ot “en julle bring wat deur diefstal gevat is en die kreupele en sieke; so bring julle die offer! Moet Ek dit uit julle hand ontvang?” sê יהוה.

14. Vervloek is die bedrieër wat ’n manlike dier in sy trop het en dit belowe, maar ’n verminkte dier aan יהוה offer, want Ek is ’n groot Koning,” sê יהוה-Tzva’ot “en My Naam (Karakter en Outoriteit) word gevrees onder die nasies.”