Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 22:6-20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

6. die persoon wat aan so iets raak, sal tot die aand toe onrein wees en hy mag nie van die afgesonderde gawes eet, tensy hy sy liggaam in water gewas het nie.

7. Wanneer die son onder is, sal hy rein wees en daarna kan hy van die afgesonderde gawes eet, want dit is sy kos.

8. Iets wat natuurlik dood is of verskeur is, mag hy nie eet sodat hy daardeur nie onrein word nie. Ek is יהוה.

9. Hulle moet My voorskrifte bewaar sodat hulle daardeur geen sonde op hulle laai as hulle dit onteer en daardeur sterf nie. Ek, יהוה, sonder hulle af.

10. Geen vreemdeling mag van wat afgesonder is eet nie. ’n Besoeker van ’n priester of ’n huurling mag nie eet wat afgesonder is nie,

11. maar as ’n priester iemand met sy geld koop, mag dié daarvan eet en die wat in sy huis gebore is; húlle mag van sy kos eet.

12. As die dogter van ’n priester met ’n vreemdeling getroud is, mag sy nie van die gawes van die afgesonderde dinge eet nie,

13. maar as die dogter van ’n priester ’n weduwee is of verstoot word en sy kinderloos is en in die huis van haar vader terugkom, soos in haar jeug, dan mag sy van die kos van haar vader eet, maar geen vreemdeling mag daarvan eet nie.

14. As iemand onwetend iets eet wat afgesonder is, moet hy ’n vyfde deel daarvan bysit en dit wat afgesonder is, aan die priester teruggee.

15. Hulle moenie die afgesonderde gawes wat die seuns van Yisra’el aan יהוה afgee, onteer nie

16. en húlle die skuld van die oortredingsoffer laat dra as hulle die afgesonderde gawes sou eet nie, want Ek, יהוה, sonder hulle af.’ “

17. יהוה het met Moshe gepraat en gesê:

18. “Praat met Aharon en sy seuns en met al die seuns van Yisra’el en sê vir hulle: ‘Enige man uit die huis van Yisra’el, of uit die besoekers in Yisra’el, wat enige van sy offers vir al sy geloftes, of enige van sy vrywillige offers, wat hy aan יהוה as ’n brandoffer bring,

19. vir julle bring om te aanvaar, moet ’n manlike dier sonder gebrek bring, van die beeste, die skape of die bokke.

20. Julle mag nie enige iets met ’n liggaamsgebrek bring nie, want dit sal nie aanvaarbaar wees vir julle nie.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 22