hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

Klaagliedere 2 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Hoe het יהוה in Sy woede die dogter van Tziyon met ’n dik wolk bedek! Hy het die lof en eer van Yisra’el vanuit die hemel op die aarde neergegooi en het nie sy voetbank onthou op die dag van Sy woede nie.

2. יהוה het al die blyplekke van Ya’akov sonder jammerte verslind; Hy het in Sy toorn die vestings van die dogter van Y’hudah neergegooi, die konings, die prinse en die gevalle manne grond toe gebring.Yeg 22:31

3. Hy het in Sy vreeslike woede al die krag van Yisra’el afgesny; Hy het sy regterhand van voor die vyand teruggetrek en ’n vuur aangesteek in die land van Ya’akov en die vuurvlamme het magtiglik rondom verteer.

4. Hy het Sy boog gespan soos ’n vyand, Sy hand opgelig soos ’n onderdrukker en alles in die tent van die dogter van Tziyon, wat aangenaam was vir die oog, gedood; Hy het Sy woede uitgegooi soos vuur.

5. יהוה het soos ’n vyand geword, Hy het Yisra’el verslind, al haar paleise verwoes, verwoesting gesaai in al haar provinsies en rou en klaagliedere in die dogter van Y’hudah vermenigvuldig.

6. Hy het Sy tent soos ’n afdak in ’n tuin neergegooi, die plekke van Sy feeste vernietig; יהוה het die vasgestelde feestye en Shabbat in Tziyon laat vergeet en in Sy verontwaardigde woede, konings en priesters verwerp.Yir 52:13,17,20

7. יהוה het Sy Afgesonderde Plek vergeet, Sy altaar verag, die mure van haar paleise in die hand van die vyand oorgelewer; hulle het uitgeskree in die huis van יהוה soos op die dag van ’n afgesonderde fees.

8. יהוה het Hom voorgeneem om die muur van die dogter van Tziyon te vernietig; Hy het die maatband uitgesteek en nie Sy hand teruggetrek van haar vernietiging nie; daarom het Hy haar leërmagte in rou laat sit, haar mure het volkome verlate geword.

9. Haar poorte het in die grond ingesink, Hy het haar grendels gebreek en vernietig; haar konings en haar prinse is tussen die ander nasies; daar is geen wet nie en haar profete het geen visioene vanaf יהוה ontvang nie.

10. Die oudstes van die dogter van Tziyon sit op die grond en bly stil; hulle het stof op hul koppe gegooi, rouklere aangetrek; die maagde van Yerushalayim hang hulle koppe af na die aarde.

11. My oë is dof van trane, my lewe is omgekrap, my moraal is laag op die grond as gevolg van die verwoesting van die dogter van my volk, want die klein kindertjies en babas val flou in die strate van die stad.

12. Hulle vra vir hul moeders: “Waar is koring, wyn en botter?’ wanneer hulle flou val soos neergeslaandes in die strate van die stad, wanneer hulle lewe uitgestort word aan die bors van hul moeders.

13. Watter getuienis kan ek vir jou gee en waarmee kan ek jou vergelyk, dogter van Yerushalayim? Waarmee sal ek jou vergelyk sodat ek jou kan vertroos, maagd, dogter van Tziyon, want jou skeur is so groot soos die see, wie kan dit stop?

14. Jou profete het vir jou valse en misleidende visioene gesien en hulle het niks van jou sondes aan jou openbaar sodat jy dit kan sien en omdraai en Ek jou kan terugbring uit gevangeskap, nie, maar het vir jou valse en misleidende profesieë gesien.

15. Almal wat met die pad verbygaan, slaan die hande saam oor jou; hulle spot en skud hulle koppe oor die dogter van Yerushalayim en sê: “Is dit die stad wat mense ‘Die volmaaktheid van skoonheid, die vreugde van die hele aarde’ genoem het?

16. יהוה het gedoen wat Hy beplan het, Sy Woord volbring wat Hy in die ou tyd beveel het; Hy het haar sonder jammerte neergegooi en haar vyand oor haar bly gemaak. Hy het mag aan jou onderdrukkers gegee.

17. Al jou vyande praat boos teen jou, hulle spot en kners hulle tande en sê: “Ons het haar verslind, dit is sekerlik die dag waarna ons uitgesien het; ons het dit gevind, dit gesien!

18. Die volk se verstand, wil en emosie het van die mure van die dogter van Tziyon na יהוה uitgeroep. Laat jou trane afloop soos ’n stroom, dag en nag; gun jouself geen rus nie, laat die appel van jou oog nie ophou trane stort nie.

19. Staan op, roep uit in die nag, aan die begin van die nagwake, stort jou binneste uit soos water voor die Teenwoordigheid van יהוה, lig jou hande op na Hom vir die lewens van jou kinders wat flou val van honger by die hoek van elke straat.Deut 28:57; Yir 52:24-27

20. Kyk, o יהוה en let op aan wie U so gedoen het! Sal die vroue hulle vrug eet, sal die kinders plat op die grond lê weens hongersnood? Sal die priester en die profeet in die Afgesonderde Plek van יהוה gedood word?

21. Oud en jonk lê op die grond in die strate; my maagde en my jongmanne het deur die swaard geval; U het doodgemaak op die dag van U woede, U het neergeslaan sonder jammerte.

22. U het, asof op ’n feesdag, my teëstanders rondom my geroep sodat op die dag van יהוה se woede, niemand ontsnap of oorleef het nie; die wat ek op die arms gedra en grootgemaak het, het my vyand verteer.