Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 49:17-28 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

17. Dan sal ’n slang daar langs die pad wees, ’n adder op die pad, wat die perd aan die hakskene byt sodat sy ruiter agteroorval.

18. Op U verlossing wag ek, יהוה!

19. Gad sal uitgaan om te plunder en hy sal sy vyande se hakskene agtervolg.

20. Brood van Asher sal ryk wees en hy sal koninklike lekkernye voortbring.

21. Naftali is soos ’n wildsbok wat vrygelaat is, hy laat mooi woorde hoor.

22. Yosef is ’n gedissiplineerde seun, ’n geleerde seun, ’n vrugbare tak by ’n fontein; sy takke het oor die muur geklim.

23. Die boogskutters het met hom baklei en baie in getal was jaloers op hom,

24. maar hy het sy boog in krag gebuig en sy arms is versterk deur die hande van die Magtige Een van Ya’akov; deur die Herder, die Mag van Yisra’el:

25. ‘Mag die Magtige God van jou vader, jou help en die Almagtige jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die diepte wat daaronder lê, met seëninge van borste en baarmoeder.

26. Die seëninge van jou vader het tot die uiterste grense van die ewige heuwels bly staan, bo die seëninge van my voorgeslag. Dit sal wees op die kop van Yosef; op die kroon van die kop van hom wat die prins is van sy broers.’

27. Binyamin is ’n verskeurende wolf; in die oggend eet hy sy prooi en in die aand deel hy buit uit.

28. Hierdie is al twaalf die stamme van Yisra’el en dit is wat hulle vader vir hulle gesê het. Hy het hulle geseën en hy het hulle elkeen volgens sy eie seën geseën.

Lees volledige hoofstuk Genesis 49