Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 44:14-28 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

14. Y’hudah en sy broers het in die huis van Yosef gekom en hy was nog daar en hulle het voor hom neergeval met hulle gesigte teen die grond.

15. Yosef sê vir hulle: “Watter daad is dit wat julle nou gedoen het? Weet julle nie dat ’n man soos ek dit ongetwyfeld vooruit kan sien nie?”

16. Y’hudah antwoord: “Wat sal ons vir my meester sê? Wat kan ons sê en waarmee kan ons onsself regverdig? God het die sonde van u diensknegte uitgevind. Let op, ons is my meester se slawe, ons sowel as hy by wie die beker gekry is.”

17. Hy sê: “Dit is ver van my om so te doen; die man in wie se hand die beker gekry is, dié sal my slaaf wees en vir julle: gaan in vrede op na julle vader toe.”

18. Toe kom Y’hudah nader na hom toe en sê: “O, my meester, laat u dienskneg asseblief ’n woord praat in die ore van my meester en laat u toorn nie teen u dienskneg ontvlam nie, want u is self soos Farao.

19. My meester het sy diensknegte gevra en gesê: ‘Het julle ’n vader of broer?’

20. Ons het my meester geantwoord: ‘Ons het ’n vader, ’n ou man en ’n seun uit sy hoë ouderdom, wat jonk is; sy broer is dood en hy het alleen oorgebly van sy moeder en sy vader het hom lief.’

21. U het aan u diensknegte gesê: ‘Bring hom af na my toe dat ek my oog op hom kan rig.’

22. Ons het my meester geantwoord: ‘Die jongman kan nie sy vader verlaat nie, want sy vader sal sterf as hy hom verlaat.’

23. U het egter aan u diensknegte gesê: ‘As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle my gesig nie weer sien nie.’

24. Dit het gebeur dat, toe ons na u dienskneg, my vader, opgegaan het, ons aan hom die woorde van my meester vertel het.

25. Ons vader het gesê: ‘Gaan terug en koop vir ons ’n bietjie kos.’

26. Ons het gesê: ‘Ons kan nie afgaan nie. As ons jongste broer by ons is, dan sal ons afgaan, want ons mag die gesig van die man nie sien as ons jongste broer nie by ons is nie.’

27. U dienskneg, my vader, het aan ons gesê: ‘Júlle weet dat my vrou aan twee geboorte gegee het vir my;

28. die een het van my af weggegaan en ek het gesê: ‘Verskeur, verskeur!’ Ek het hom sedertdien nie gesien nie.

Lees volledige hoofstuk Genesis 44