Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 32:4-19 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

4. en aan hulle bevel gegee en gesê: “So moet julle aan my meester, aan `Esav, sê: ‘So sê Ya’akov, u dienskneg; ek het as besoeker gebly by Lavan en daar gebly tot nou toe

5. en ek het beeste, donkies, kleinvee, slawe en slavinne en ek laat weet dit vir my meester sodat ek guns mag vind in u oë.’”

6. Die boodskappers het na Ya’akov teruggekom en gesê: “Ons het by u broer `Esav gekom en hy gaan u alreeds tegemoet en het vier honderd man saam met hom.”

7. Ya’akov was bang en baie benoud en hy het die mense wat by hom was, sowel as die kleinvee, beeste en kamele in twee groepe verdeel,

8. want hy het gedink: “As `Esav by die een groep kom en dit verslaan, sal die groep wat oorbly, ontsnap.”

9. Ya’akov het gebid en gesê: “O God van my vader Avraham en God van my vader Yitz’gak, יהוה, wat my beveel het: gaan terug na jou land en na jou familie en Ek sal aan jou goed doen;

10. ek is nie al die guns en al die getrouheid wat U aan u dienskneg bewys het waardig nie, want ek het met my staf oor hierdie Yarden getrek en nou het ek twee groepe geword.

11. Red my asseblief uit die hand van my broer, uit die hand van `Esav, want ek is bang vir hom dat hy sal kom en my doodslaan, die moeders saam met die seuns.

12. U het tog self gesê: ‘Ek sal sekerlik aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see wat vanweë die menigte daarvan nie getel kan word nie.’”

13. Hy het die nag daar oorgebly en van wat in sy hand gekom het as ’n geskenk gevat vir sy broer `Esav:

14. twee honderd bokooie en twintig bokramme, twee honderd skaapooie en twintig ramme,

15. dertig melkkamele en hulle kalwers, veertig koeie en tien bulle, twintig donkiemerries en tien jong donkies

16. en hy het hulle aan sy diensknegte oorhandig, elke trop afsonderlik en aan sy diensknegte gesê: “Gaan voor my uit en laat ’n ruimte oop tussen trop en trop.”

17. Hy beveel die eerste een en sê: “As my broer `Esav jou ontmoet en jou vra: ‘Aan wie behoort jy, waarheen gaan jy en wie se besittings is daar voor jou?’

18. dan moet jy antwoord: ‘U dienskneg Ya’akov s’n. Dit is ’n geskenk wat hy aan my meester `Esav stuur en let op, hy self kom ook agter ons aan’.”

19. Hy het ook bevel gegee aan die tweede en aan die derde en aan almal wat agter die troppe geloop het en gesê: “Net so moet julle `Esav antwoord as julle hom ontmoet;

Lees volledige hoofstuk Genesis 32