Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 32:20-32 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

20. julle moet sê: ‘Let op, u dienskneg Ya’akov kom ook agter ons aan’,” want hy het gedink: laat ek hom tevrede stel met die geskenk wat voor my uit gaan en daarna, as ek sy gesig sien, miskien sal hy my aanvaar.

21. So het die geskenk voor hom uitgegaan, maar hy self het dié nag in die kamp gebly.

22. Hy het dieselfde nag opgestaan en sy twee vroue, sy twee slavinne en sy elf seuns gevat en deur die drif van die Yabbok getrek.

23. Hy het hulle gevat en hulle oor die stroompie laat gaan, asook wat aan hom behoort oorgestuur,

24. maar Ya’akov het alleen agtergebly en ’n Man het met hom gestoei tot dagbreek toe.

25. Toe Hy sien dat Hy hom nie kon wen nie, slaan Hy hom op sy heupbeen sodat die heupbeen van Ya’akov uit lit geraak het soos hy met Hom gestoei het.

26. Hy sê: “Laat My gaan, want die dag het gebreek.” Hy antwoord: “Ek sal U nie laat gaan nie, tensy U my seën.”

27. Hy vra hom: “Wat is jou naam?” Hy antwoord: “Ya’akov.”

28. Hy sê: “Jy sal nie meer Ya’akov genoem word nie, maar Yisra’el, want jy het krag soos ’n prins gehad teenoor God en die mense en het oorwin.”

29. Ya’akov vra en sê: “Maak asseblief U Naam (Karakter en Outoriteit) bekend!” Hy antwoord: “Waarom vra jy na My Naam?” Hy het hom daar geseën.

30. Ya’akov het die plek P’ni-El genoem; ek het God van gesig tot gesig gesien en tog is my lewe gered.

31. Die son het vir hom opgegaan net toe hy oor P’ni-El gaan en hy was mank aan sy heup;

32. daarom eet die kinders van Yisra’el tot vandag toe nie die heupsening, wat aan die heupbeen is nie omdat Hy Ya’akov op die heupbeen, aan die heupsening, geslaan het.

Lees volledige hoofstuk Genesis 32