Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 32:10-21 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. ek is nie al die guns en al die getrouheid wat U aan u dienskneg bewys het waardig nie, want ek het met my staf oor hierdie Yarden getrek en nou het ek twee groepe geword.

11. Red my asseblief uit die hand van my broer, uit die hand van `Esav, want ek is bang vir hom dat hy sal kom en my doodslaan, die moeders saam met die seuns.

12. U het tog self gesê: ‘Ek sal sekerlik aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see wat vanweë die menigte daarvan nie getel kan word nie.’”

13. Hy het die nag daar oorgebly en van wat in sy hand gekom het as ’n geskenk gevat vir sy broer `Esav:

14. twee honderd bokooie en twintig bokramme, twee honderd skaapooie en twintig ramme,

15. dertig melkkamele en hulle kalwers, veertig koeie en tien bulle, twintig donkiemerries en tien jong donkies

16. en hy het hulle aan sy diensknegte oorhandig, elke trop afsonderlik en aan sy diensknegte gesê: “Gaan voor my uit en laat ’n ruimte oop tussen trop en trop.”

17. Hy beveel die eerste een en sê: “As my broer `Esav jou ontmoet en jou vra: ‘Aan wie behoort jy, waarheen gaan jy en wie se besittings is daar voor jou?’

18. dan moet jy antwoord: ‘U dienskneg Ya’akov s’n. Dit is ’n geskenk wat hy aan my meester `Esav stuur en let op, hy self kom ook agter ons aan’.”

19. Hy het ook bevel gegee aan die tweede en aan die derde en aan almal wat agter die troppe geloop het en gesê: “Net so moet julle `Esav antwoord as julle hom ontmoet;

20. julle moet sê: ‘Let op, u dienskneg Ya’akov kom ook agter ons aan’,” want hy het gedink: laat ek hom tevrede stel met die geskenk wat voor my uit gaan en daarna, as ek sy gesig sien, miskien sal hy my aanvaar.

21. So het die geskenk voor hom uitgegaan, maar hy self het dié nag in die kamp gebly.

Lees volledige hoofstuk Genesis 32