Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 3:1-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Nou, die slang was listiger as al die lewende wesens van die veld wat יהוה-God gemaak het en hy sê vir die vrou: “Het God werklik gesê dat julle nie van al die bome van die tuin mag eet nie?”

2. Die vrou antwoord die slang: “Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet,

3. maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: ‘Julle mag daarvan nie eet of dit aanraak nie, anders sal julle sterf’.”

4. Die slang sê vir die vrou: “Julle sal die dood nie sterf nie,

5. maar God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan en julle soos God sal wees deur goedheid en boosheid te ken.”

6. Toe die vrou sien dat die boom goed was om van te eet en dit ’n vreugde was vir die oë en ’n begeerlike boom om jou wys te maak, het sy van die vrugte gevat en geëet en ook aan haar man by haar gegee en hy het geëet.

7. Toe gaan altwee van hulle se oë oop en hulle besef dat hulle kaal is. Hulle het vyeblare aanmekaar gewerk en vir hulle lendebedekkings gemaak.

8. Hulle het die stem van יהוה-God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die koel van die dag en die mens en sy vrou het hulself vir die Teenwoordigheid van יהוה-God weggesteek tussen die bome van die tuin.

9. יהוה-God het geroep na die mens en vir hom gesê: “Waar is jy?”

10. Hy antwoord: “Ek het U geroep gehoor in die tuin en was bang, want ek is kaal; daarom het ek weggekruip.”

11. Hy sê: “Wie het aan jou bekendgemaak dat jy kaal is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie?”

12. Die mens antwoord: “Die vrou wat U gegee het om saam met my te wees, sy het vir my van die boom gegee en ek het geëet.”

13. יהוה-God sê vir die vrou: “Wat is hierdie wat jy gedoen het?” Die vrou antwoord: “Die slang het my mislei en ek het geëet.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 3