Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 29:13-29 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

13. Dit het so gebeur dat toe Lavan die verslag hoor van Ya’akov, die seun van sy suster, hy hom tegemoet gehardloop, hom omhels, gesoen en hom in sy huis ingebring het. Hy het aan Lavan al hierdie dinge vertel.

14. Lavan sê vir hom: “Waarlik, jy is my vlees en been.” Hy het by hom die dae van ’n maand gebly.

15. Lavan sê vir Ya’akov: “Sou jy my verniet dien omdat jy my familie is? Vertel my wat jou loon moet wees.”

16. Nou, Lavan het twee dogters gehad; die naam van die oudste was Le’ah en die naam van die jongste Ragel.

17. Le’ah het aantreklike oë gehad, maar Ragel het ’n mooi figuur gehad en was mooi om na te kyk.

18. Ya’akov het Ragel liefgehad; daarom het hy gesê: “Ek sal u sewe jaar dien vir Ragel, u jongste dogter.”

19. Lavan antwoord: “Dit is beter dat ek haar vir jou gee as dat ek haar vir ’n ander man gee. Bly by my.”

20. So het Ya’akov dan sewe jaar gewerk vir Ragel en dit was in sy oë soos ’n dag omdat hy haar liefgehad het.

21. Ya’akov sê vir Lavan: “Gee nou my vrou dat ek by haar kan ingaan, want my dae is vervul.”

22. Lavan het al die manne van die plek bymekaargemaak en ’n fees voorberei.

23. Dit het so gebeur dat hy sy dogter Le’ah gevat en haar na hom toe gebring het teen sonsondergang en hy het by haar ingegaan.

24. Lavan het ook sy slavin Zilpah aan sy dogter Le’ah gegee as slavin.

25. Die volgende oggend, let op, dit was Le’ah! Hy sê vir Lavan: “Wat het u my nou aangedoen? Was dit nie vir Ragel wat ek u gedien het nie? Waarom het u my dan bedrieg?”

26. Lavan antwoord: “Dit word nie hier in ons land so gedoen om die jongste voor die oudste in die huwelik te gee nie.

27. Voltooi haar bruilofsfees van sewe dae, dan sal ons jou dié een ook gee vir die diens waarmee jy my nóg sewe jaar moet dien.”

28. Ya’akov het so gedoen: hy het haar bruilofstyd van sewe voltooi. Toe gee hy sy dogter Ragel ook aan hom as vrou.

29. Lavan het sy slavin Bilhah vir sy dogter Ragel gegee as slavin.

Lees volledige hoofstuk Genesis 29