Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 24:7-21 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

7. יהוה, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggevat het en wat met my gepraat en vir my gesweer het met die woorde: ‘Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee;’ Hy sal Sy engel voor jou uitstuur en jy moet vir my seun daar ’n vrou gaan haal,

8. maar as die vrou jou nie wil volg nie, dan is jy vry van hierdie eed aan my. Jy moet net nie my seun daarheen terugvat nie.”

9. Toe lê die dienskneg sy hand onder die bobeen van Avraham, sy meester en hy het vir hom gesweer aangaande hierdie saak.

10. Die dienskneg het tien kamele vanuit die kamele van sy meester gevat en weggegaan. Al die rykdom van sy meester was in sy hand: hy het opgestaan en na Aram-Naharayim (Mesopotamië), na die stad van Nagor, vertrek.

11. Hy het teen sonsondergang die kamele laat neerkniel buitekant die stad by ’n waterput, op die tyd dat die vroue uitgaan om water te skep

12. en gesê: “ O, יהוה, God van Avraham, my meester, laat ek haar tog vandag ontmoet en bewys guns aan Avraham, my meester.

13. Let op, ek staan hier by die fontein en die dogters van die manne van die stad kom uit om water te skep.

14. Laat dit nou wees dat die jong vrou aan wie ek sal sê: ‘Laat sak jou kruik sodat ek kan drink’ en sy antwoord: ‘Drink en ek sal ook u kamele laat drink;’ laat sy die een wees wat U aangestel het vir U dienskneg Yitz’gak en daaraan sal ek weet dat U guns aan my meester bewys het.”

15. Hy het nog nie klaar gepraat nie, of Rivkah, wat vir B’tu’el, die seun van Milkah, die vrou van Nagor, Avraham se broer, gebore is, kom uit met haar kruik op haar skouer.

16. Die jong vrou was baie mooi van aansien, ’n maagd, geen man het ’n intieme verhouding met haar gehad nie en sy het afgegaan na die fontein toe, haar kruik volgemaak en weer opgekom.

17. Die dienaar hardloop om haar te ontmoet en sê: “Laat my asseblief ’n bietjie water uit jou kruik drink.”

18. Sy antwoord: “Drink, my meester!” Toe laat sy vinnig haar kruik op haar hand afsak en gee vir hom om te drink.

19. Nadat sy hom genoeg laat drink het, sê sy: “Ek sal vir u kamele ook skep totdat hulle genoeg gedrink het.”

20. Sy het dadelik haar kruik in die drinkbak leeggemaak en weer na die put gehardloop om te skep en vir al sy kamele geskep.

21. Die man het haar stil aangekyk om te weet of יהוה sy pad voorspoedig gemaak het of nie.

Lees volledige hoofstuk Genesis 24