Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 24:2-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

2. Toe sê Avraham aan sy dienskneg, die oudste van sy huis, wat geheers het oor al sy goed: “Lê jou hand onder my bobeen

3. en ek sal jou laat sweer by יהוה, die God van die hemele en die God van die aarde dat jy vir my seun geen vrou sal neem uit die dogters van die Kena’aniete onder wie ek bly nie,Eks 34:16; Deut 7:3; Neg 10:30

4. maar dat jy na my land en my familie sal gaan om vir my seun Yitz’gak ’n vrou te vat.”

5. Toe sê die dienskneg vir hom: “Miskien sal die vrou nie gewillig wees om my te volg na hierdie land nie. Moet ek u seun dan terugvat na die land waaruit u weggetrek het?”

6. Avraham antwoord hom: “Maak seker dat jy my seun nie daarheen terugvat nie.

7. יהוה, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggevat het en wat met my gepraat en vir my gesweer het met die woorde: ‘Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee;’ Hy sal Sy engel voor jou uitstuur en jy moet vir my seun daar ’n vrou gaan haal,

8. maar as die vrou jou nie wil volg nie, dan is jy vry van hierdie eed aan my. Jy moet net nie my seun daarheen terugvat nie.”

9. Toe lê die dienskneg sy hand onder die bobeen van Avraham, sy meester en hy het vir hom gesweer aangaande hierdie saak.

10. Die dienskneg het tien kamele vanuit die kamele van sy meester gevat en weggegaan. Al die rykdom van sy meester was in sy hand: hy het opgestaan en na Aram-Naharayim (Mesopotamië), na die stad van Nagor, vertrek.

11. Hy het teen sonsondergang die kamele laat neerkniel buitekant die stad by ’n waterput, op die tyd dat die vroue uitgaan om water te skep

12. en gesê: “ O, יהוה, God van Avraham, my meester, laat ek haar tog vandag ontmoet en bewys guns aan Avraham, my meester.

13. Let op, ek staan hier by die fontein en die dogters van die manne van die stad kom uit om water te skep.

14. Laat dit nou wees dat die jong vrou aan wie ek sal sê: ‘Laat sak jou kruik sodat ek kan drink’ en sy antwoord: ‘Drink en ek sal ook u kamele laat drink;’ laat sy die een wees wat U aangestel het vir U dienskneg Yitz’gak en daaraan sal ek weet dat U guns aan my meester bewys het.”

15. Hy het nog nie klaar gepraat nie, of Rivkah, wat vir B’tu’el, die seun van Milkah, die vrou van Nagor, Avraham se broer, gebore is, kom uit met haar kruik op haar skouer.

16. Die jong vrou was baie mooi van aansien, ’n maagd, geen man het ’n intieme verhouding met haar gehad nie en sy het afgegaan na die fontein toe, haar kruik volgemaak en weer opgekom.

17. Die dienaar hardloop om haar te ontmoet en sê: “Laat my asseblief ’n bietjie water uit jou kruik drink.”

18. Sy antwoord: “Drink, my meester!” Toe laat sy vinnig haar kruik op haar hand afsak en gee vir hom om te drink.

Lees volledige hoofstuk Genesis 24