hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

`Ezra 7 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Ná hierdie dinge, tydens die regering van Artag’shashta, koning van Perse, het `Ezra, ’n leier, die seun van S’rayah, die seun van `Azaryah, die seun van Hilkiyah,

2. die seun van Shallum, die seun van Tzadok, die seun van Agituv,

3. die seun van Amaryah, die seun van `Azaryah, die seun van M’rayot,

4. die seun van Z’ragyah, die seun van `Uzi, die seun van Bukki,

5. die seun van Avishua, die seun van Pingas, die seun van Eli’ezer, die seun van Aharon, die hoofpriester,

6. opgegaan uit Bavel. Hy was ’n skrifgeleerde, geskool in die wet van Moshe wat יהוה, die God van Yisra’el, gegee het. Die koning het aan hom al sy versoeke toegestaan sodat hy kon lewe soos hy wou volgens die wet van יהוה, sy God.

7. Daar het ook sommige van die seuns van Yisra’el, van die priesters, die Leviete, die sangers, die poortwagters en die tempelknegte na Yerushalayim opgegaan in die sewende jaar van koning Artag’shashta.

8. Hulle het in Yerushalayim gekom in die vyfde maand van die sewende jaar van die koning.

9. In die eerste maand het hulle begin opgaan uit Bavel en op die eerste dag van die vyfde maand het hulle in Yerushalayim aangekom, volgens die hand van God wat goed was oor hulle,

10. want `Ezra het sy verstand, wil en emosie daarop gerig om die wet van יהוה te ondersoek, dit te doen en in Yisra’el die instellings en oordele te onderrig.

11. Hierdie is die afskrif van die brief wat koning Artag’shashta gegee het aan `Ezra, die priester en skrifgeleerde van die woorde, die opdragte en instellings van יהוה aan die hele Yisra’el:

12. “Artag’shashta, koning van die konings, aan die priester `Ezra, skrifgeleerde in die wet van die God van die hemel, alle vrede, voorspoed, vergenoegdheid, gesondheid en vreugde!

13. Ek het ’n bevel uitgevaardig en ’n reëling gemaak dat enige een van die volk van Yisra’el, sy priesters en Leviete, in my koninkryk, wat begeer om saam met jou op te gaan na Yerushalayim, mag gaan.

14. Meer nog, ek het ’n bevel uitgevaardig en ’n reëling gemaak en sommige van my vriende gestuur om navraag te doen na die welstand van Y’hudah en Yerushalayim en om ook navraag te doen aangaande die wet van jou God wat in jou hand is

15. en om die koning se silwer en goud weg te bring wat ek vrywillig gegee het vir die huis van God, Wie se blyplek in Yerushalayim is

16. en al die silwer en goud wat in al die provinsies van Bavel te vinde is, sal saam met jou gaan en die priesters en die Leviete en almal wat saam met jou wil gaan, mag gaan na die huis van God, wat in Yerushalayim is.

17. Jy moet met hierdie geld wyslik bulle, ramme en lammers, saam met hulle graanoffers en drankoffers, wat daarby saamgaan, koop en dit op die altaar van julle God, wat in Yerushalayim is, offer

18. en wat jy en jou broers goed vind om met die orige geld te doen, doen dit volgens die wil van julle God.

19. Die houers wat ook vir jou gegee word vir die diens van die huis van jou God, moet jy aflewer voor die God wat in Yerushalayim is

20. en die res van die houers wat jy mag benodig vir die diens in die huis van jou God, moet jy vat en gee uit die skathuis van die koning.

21. Ek, Artag’shashta, die koning, vaardig ’n bevel uit aan al die skatmeesters wat wes van die Eufraat is, dat wat ook al `Ezra, die priester, die skrifgeleerde in die wet van die God van die hemel, van julle mag vra, julle dit haastig sal doen,

22. tot en met ’n honderd talente silwer en tot ’n honderd kor koring en tot ’n honderd bat wyn en tot honderd bat olie en sout sonder beperking.

23. Alles wat volgens die bevel is, sal gegee word en jy moet dit gee volgens die wet van die God van die hemel; laat dit gevat en gedoen word sodat daar nie ’n toorn kom oor die koninkryk van die koning en sy seuns nie.

24. Ons stel julle ook in kennis dat dit onwettig is vir julle om die priesters, Leviete, sangers, poortwagters, tempelknegte of werkers van die huis van God aan te raak of lastig te val

25. en jy, `Ezra, volgens jou wysheid wat jou God jou gegee het, stel owerhede en regters aan wat al die volke wat wes van die Eufraat is, kan regeer, almal wat die wette van jou God ken en vir hom wat dit nie ken nie, moet julle dit leer.

26. Wie ook al nie die wet van jou God en die wet van die koning doen nie, laat oordeel haastig oor hom uitgevoer word, hetsy ter dood of tot verbanning of konfiskering van goedere of tronkstraf.”

27. Geseënd is U, o יהוה, God van ons vaders, want U het hierdie ding in die verstand, wil en emosie van die koning gesit, om die huis van יהוה wat in Yerushalayim is, te versier

28. en sy guns tot my uit te strek voor die koning en sy magtige prinse. Ek is versterk omdat die hand van יהוה, my God, op my was en ek het leiers uit Yisra’el gekies om saam met my op te gaan.