hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 3 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Ná hierdie dinge het koning Agashverosh vir Haman, die seun van Hammedatha, die Agagiet, bevorder en hom verhoog en sy setel hoër gestel as dié van al die prinse wat by hom was

2. en al die diensknegte van die koning wat in die poort van die koning was, het gebuig en respek aan Haman betoon, want so het die koning aangaande hom bevel gegee, maar Mordekhai het nie gebuig of respek betoon nie.Hand 5:29

3. Toe het die diensknegte van die koning, wat in die poort van die koning was, vir Mordekhai gevra: “Waarom oortree jy die opdrag van die koning?”

4. Dit het gebeur toe hulle elke dag met hom gepraat het en hy nie na hulle wou luister nie, hulle dit vir Haman vertel het, om te sien of Mordekhai se woorde die waarheid is, want hy het hulle vertel dat hy van Y’hudah is.

5. Toe Haman sien dat Mordekhai nie voor hom buig of eer betoon nie, was Haman woedend teenoor Mordekhai

6. en hy het dit te gering geag om die hand aan Mordekhai alleen te slaan, want hulle het aan hom die volk van Mordekhai openbaar, waarop Haman daarna gesoek het om almal van Y’hudah, wat in die hele koninkryk van Agashverosh was, die volk van Mordekhai, te vernietig.

7. In die eerste maand, dit is die maand Nisan, in die twaalfde jaar van koning Agashverosh, het hulle die lot voor Haman gewerp vir elke dag en vir elke maand. Toe op die twaalfde maand, dit is die maand Adar,

8. sê Haman vir koning Agashverosh: “Daar is ’n sekere volk wat verstrooid en afgesonderd is tussen die volke in al die provinsies van koning Agashverosh en hulle wette is anders as dié van enige ander volk en hulle hou nie die wette van die koning nie; daarom moet die koning hulle nie spaar nie.

9. As die koning dit goedvind, laat dit neergeskryf word dat hulle vernietig mag word en ek sal tien duisend talente silwer afweeg in die hande van hulle wat beheer het oor die saak, om dit by die skatte van die koning te sit.”

10. Die koning vat toe die seëlring van sy hand af en gee dit vir Haman, die seun van Hammedatha, die Agagiet, die vyand van die Y’hudahiete.

11. Die koning het aan Haman gesê: “Die silwer word aan jou geskenk asook die volk, om daarmee te doen soos goed is in jou oë.”

12. Toe is die skrywers van die koning geroep op die dertiende dag van die eerste maand en daar is geskrywe net soos Haman beveel het aan die koning se bevelvoerders en goewerneurs wat oor elke provinsie was en aan die prinse van elke volk wat in elke provinsie was, volgens sy skrif en aan elke volk volgens sy taal; in die naam van koning Agashverosh is dit geskryf en verseël met die seëlring van die koning.

13. Die briewe is met die hardlopers, na al die provinsies van die koning, gestuur om almal van Y’hudah te vernietig, dood te maak en uit te roei, jonk en oud, kinders en vroue, op een dag, op die dertiende dag van die twaalfde maand, dit is die maand Adar en om hulle besittings as buit te plunder.

14. ’n Afskrif van die skrywe is in elke provinsie uitgevaardig as opdrag aan al die volke om gereed te wees op daardie dag.

15. Die hardlopers het uitgegaan, verhaas deur die koning se woord en die wet is in die Shushan paleis uitgevaardig en die koning en Haman het gesit en drink, maar die stad Shushan was in oproer.