Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 8:11-26 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

11. Die paddas sal u, u huise, u diensknegte en u volk verlaat. Net in die Nyl sal hulle oorbly.”

12. Moshe en Aharon het van Farao af weggegaan en Moshe het tot יהוה geroep aangaande die paddas wat Hy oor Farao gebring het.

13. יהוה het gedoen volgens die woord van Moshe: die paddas het doodgegaan uit die huise, van die voorhowe af en uit die veld

14. en hulle het dit in hope bymekaargemaak en die land het gestink.

15. Toe Farao egter sien dat daar verligting is, het hy sy wil, emosie en verstand verhard en nie na hulle geluister nie, soos יהוה gesê het.

16. יהוה sê vir Moshe: “Sê aan Aharon: steek jou staf uit en slaan die stof van die aarde sodat dit muggies word oor die hele land van Mitzrayim.”

17. Hulle het so gedoen: Aharon het sy hand met sy staf uitgesteek en die stof van die aarde geslaan en daar het muggies gekom op die mense en op diere. Al die stof van die aarde het muggies geword in die hele land van Mitzrayim.

18. Die towenaars het dieselfde probeer doen met hulle geheime kunste om muggies voort te bring, maar hulle kon nie en die muggies was op die mense en op die diere.

19. Toe sê die towenaars vir Farao: “Dit is die vinger van God!” Farao se wil, emosie en verstand was egter onveranderlik sodat hy na hulle nie geluister het nie, soos יהוה gesê het.

20. יהוה sê vir Moshe: “Staan môre vroeg op en staan voor Farao wanneer hy na die water toe uitgaan en sê vir hom: so sê יהוה: ‘Laat My volk gaan sodat hulle My kan dien,

21. of anders, as jy My volk nie laat gaan nie, let op, Ek sal swerms vlieë teen jou, teen jou diensknegte, teen jou volk en teen jou huise laat kom sodat die huise van die Mitzrayiete vol vlieë sal wees en selfs die grond waarop hulle staan.

22. Op dié dag sal Ek die land Goshen, waarin My volk woon, afsonder sodat daar geen swerm vlieë sal wees nie sodat jy kan weet dat Ek, יהוה, in die wêreld is.

23. Ek het ’n skeiding gestel tussen My volk en jou volk. Môre sal hierdie teken plaasvind.’”

24. יהוה het so gedoen: dik swerms vlieë het in die huis van Farao, in die huis van sy diensknegte en in die hele land van Mitzrayim gekom; die land het verval as gevolg van die swerms vlieë.

25. Farao laat Moshe en Aharon roep en sê: “Gaan, offer aan julle God in die land.”

26. Moshe antwoord: “Dit is nie reg om dit so te doen nie, want ons offer aan יהוה, ons God, wat vir die Mitzrayiete ’n gruwel is. As ons dit wat ’n gruwel is vir die Mitzrayiete voor hulle oë offer, sal hulle ons nie dan stenig nie?

Lees volledige hoofstuk Eksodus 8