Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 5:1-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Daarna het Moshe en Aharon ingegaan en vir Farao gesê: “So sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Laat My volk gaan dat hulle vir My ’n fees kan hou in die wildernis.”

2. Farao antwoord: “Wie is יהוה dat ek Sy stem moet gehoorsaam om Yisra’el te laat gaan? Ek het nie ’n verbondsverhouding met יהוה nie en ek sal Yisra’el ook nie laat gaan nie.”

3. Hulle sê: “Die God van die Hebreërs het met ons ontmoet; laat ons nou drie dagreise ver die woestyn intrek en aan יהוה, ons God, offer sodat Hy ons nie oorval met peste of die swaard nie.”

4. Die koning van Mitzrayim antwoord hulle: “Moshe en Aharon, waarom hou julle die volk van hulle werk af? Gaan terug na julle werk toe.”

5. Farao sê ook: “Let op, die mense van die land is nou reeds baie en julle het hulle laat ophou met hulle werk.”

6. Farao het daarom op dieselfde dag aan die taakmeesters en hulle opsigters bevel gegee en gesê:

7. “Julle moet geen strooi meer aan die volk gee om bakstene te maak soos gister en eergister nie. Laat hulle gaan en vir hulleself strooi bymekaarmaak.

8. Die hoeveelheid bakstene wat hulle gister en eergister gemaak het, moet julle van hulle verwag en niks daarvan verminder nie, want hulle verslap en daarom roep hulle uit en sê: ‘Laat ons gaan en aan ons God offer!’

9. Laat meer werk op die manne gelaai word sodat hulle daaraan kan werk en nie misleidende woorde oorweeg nie.”

10. Die taakmeesters en die opsigters van die volk het uitgegaan en met die volk gepraat en gesê: “So sê Farao: ‘Ek sal nie vir julle strooi gee nie.

11. Gaan haal self vir julle strooi waar julle dit kan kry, maar geen van julle werk word verminder nie’.”

12. Toe is die volk oor die hele Mitzrayim versprei om stoppels te versamel vir strooi

13. en die taakmeesters het op hulle gedruk en gesê: “Voltooi julle werk volgens die eis van elke dag net soos toe daar strooi was.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 5