Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 26:12-31 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

12. Die stuk van die gordyn van die tentbedekking wat oorbly, die halwe gordyn wat oorbly, moet oorhang aan die agterkant van die tabernakel

13. en ’n el aan weerskante van die lengte van die gordyne moet oorhang aan die sykante van die tabernakel, aan weerskante, om dit toe te dek.

14. Jy moet ook vir die tent ’n bedekking van rooigekleurde ramsvelle maak en ’n bedekking van dugongvelle daar bo-oor.

15. Jy moet ook die regopstaande planke vir die tabernakel van akasiahout maak.

16. Die lengte van ’n plank moet tien el wees en die breedte van elke plank een en ’n half el.

17. Elke plank moet twee tappe hê wat hulle aan mekaar kan bind. Jy moet dit so maak vir al die planke van die tabernakel.

18. Jy moet die planke vir die tabernakel maak: twintig planke vir die suidekant.

19. Jy moet ook veertig silwer voetstukke vir die twintig planke maak: twee voetstukke onder elke plank vir sy twee tappe.

20. Vir die tweede sykant van die tabernakel, aan die noordekant, twintig planke

21. met hulle veertig silwer voetstukke: twee voetstukke onder elke plank.

22. Vir die kant van die tabernakel, na die weste toe, moet jy ses planke maak.

23. Jy moet ook twee planke maak vir die hoeke van die tabernakel, aan die agterkant.

24. Hulle moet van onder tot bo dubbel wees en bo en onder vas met een ring. So moet dit met altwee wees; hulle sal vir die twee hoeke wees.

25. Daar sal dus agt planke wees met hulle silwer voetstukke, sestien voetstukke: twee voetstukke onder elke plank.

26. Jy moet ook pale van akasiahout maak: vyf vir die planke aan die een sykant van die tabernakel

27. en vyf pale vir die planke aan die ander sykant van die tabernakel; ook vyf pale vir die planke aan die kant van die tabernakel na die weste.

28. Die middelste balk moet deur die middel van die planke loop, van ent tot ent.

29. Jy moet die planke met goud oortrek en hulle ringe, as plekke vir die pale, moet jy van goud maak. Die pale moet jy ook met goud oortrek.

30. Jy moet die tabernakel oprig volgens die plan wat vir jou op die berg gewys is.

31. Jy moet ’n verdelingsgordyn maak van blou, pers en bloedrooi materiaal en wit geweefde linne, met gérubs kunstig ingewerk.Heb 9:3

Lees volledige hoofstuk Eksodus 26