Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 21:16-35 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

16. Hy wat ’n mens steel en hom verkoop, of as hy in sy besit gekry word, dié moet die dood sterf.

17. Hy wat sy vader of moeder vloek, moet die dood sterf.Mat 15:4; Mar 7:10

18. As manne stry en die een die ander met ’n klip of met die vuis slaan sodat hy nie doodgaan nie, maar bedlêend word;

19. as hy weer opstaan en buite met sy staf rondloop, moet hy wat hom geslaan het, vrygestel word; net sy tydverlies moet hy vergoed en voorsien dat hy van sy beserings genees.

20. As iemand sy slaaf of slavin met ’n stok slaan dat dié onder sy hand sterwe, moet wraak geneem word om dit te wreek,

21. maar as hy ná een of twee dae nog lewe, moet dit nie gewreek word nie, want hy is deel van sy eiendom.

22. As manne met mekaar baklei en ’n swanger vrou so stamp dat haar kind afkom, maar sonder skade, moet hy ’n boete betaal volgens wat die man van die vrou van hom verwag en hy moet dit betaal volgens wat die regters besluit,

23. maar as daar enige verdere skade is, dan moet jy as straf lewe vir lewe aanwys,

24. oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet,Deut 19:21; Mat 5:38

25. brandplek vir brandplek, wond vir wond, merk vir merk.

26. As iemand sy slaaf of slavin op die oog slaan en hy dit vernietig, moet hy hom vry laat weggaan vir sy oog.

27. As hy die tand van sy slaaf of van sy slavin uitslaan, moet hy hom vry laat weggaan vir sy tand.

28. As ’n bees ’n man of ’n vrou deurboor sodat hy sterf, moet die bees met klippe tot die dood gestenig word en sy vleis mag nie geëet word nie, maar die eienaar van die bees sal vry wees,

29. maar as die bees tevore al met sy horings gestoot het en sy eienaar gewaarsku is, maar dit nie ingeperk het nie en dit ’n man of ’n vrou doodmaak, moet die bees gestenig word en sy eienaar moet ook gedood word.

30. As aan hom loskoopgeld opgelê word, moet hy vir die loskoping van sy lewe alles gee wat hom opgelê word.

31. Of dit ’n seun deurboor het of ’n dogter, volgens hierdie selfde oordeel moet met hom gehandel word.

32. As die bees ’n slaaf of slavin deurboor, moet hy aan hulle meester dertig sikkels silwer gee en die bees moet gestenig word.

33. As iemand ’n put oopmaak, of as iemand ’n put grawe en dit nie toemaak nie en ’n bees of donkie val daarin,

34. moet die eienaar van die put vergoeding gee: hy moet aan die eienaar van die dier geld gee en die dooie dier moet syne wees.

35. As ’n man se bees die bees van ’n ander stoot sodat dit sterf, moet hulle die lewendige bees verkoop en die geld daarvan verdeel en die dooie een moet hulle ook verdeel,

Lees volledige hoofstuk Eksodus 21