Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 15:5-21 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

5. Die dieptes het hulle toegedek. Hulle het na die dieptes gesink soos ’n klip.

6. יהוה, U regterhand is vorstelik in krag. U regterhand, יהוה, verpletter die vyand.

7. In U oorvloedige grootheid gooi U diegene neer wat teen U opstaan. U stuur U brandende woede uit en dit verteer hulle soos stoppels.

8. Met die blaas van U neusgate het die waters opgehoop, die strome het bly staan soos ’n wal, die dieptes het styf geword in die hart van die see.

9. Die vyand het gesê: ‘Ek sal agtervolg, inhaal, die buit verdeel, my begeerte sal oor hulle versadig word; ek sal my swaard uittrek, my hand sal hulle vernietig.’

10. U het met U asem geblaas en die see het hulle toegedek; soos lood het hulle gesink in die magtige waters.

11. יהוה, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, groot in afgesonderdheid, eerbiedwaardig in lofprysing, in die doen van wonderwerke?

12. U het U regterhand uitgesteek, die aarde het hulle ingesluk.

13. U het deur U onverdiende guns die volk wat U losgekoop het uitgelei; U het hulle deur U sterkte na U afgesonderde blyplek gelei.

14. Die volke het dit gehoor en hulle bewe; angs het die inwoners van P’leshet aangegryp.

15. Toe het die hoofde van Edom van binne gebewe, bewing het die magtiges van Mo’av beetgekry. Al die inwoners van Kena’an het weggesmelt.

16. Vrees en verskrikking het op hulle geval; deur die grootheid van U arm was hulle bewegingloos soos ’n klip terwyl U volk deurtrek; terwyl die volk wat U, יהוה, losgekoop het, deurtrek.

17. U bring hulle en plant hulle op die berg van U erfenis, in die plek, יהוה, wat U vir Uself as blyplek gemaak het, die Afgesonderde Plek wat U hande daargestel het, my Meester!

18. יהוה sal regeer vir ewig en ewig,

19. want Farao se perde, met sy strydwaens en ruiters, het in die see ingegaan en יהוה het die waters van die see oor hulle laat terugkom, maar die seuns van Yisra’el het op droë grond deur die see geloop.”

20. Miryam, die profetes, die suster van Aharon, het ’n tamboeryn in haar hand gevat en al die vroue het agter haar uitgegaan, met tamboeryne en danse.

21. Miryam het hulle geantwoord: “Sing tot eer van יהוה, want Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met sy ruiter in die see gegooi.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 15