Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 15:3-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

3. יהוה is ’n Oorwinnaar in geveg; יהוה is Sy Naam (Karakter en Outoriteit).

4. Farao se strydwaens en sy leërmag het Hy in die see gegooi en sy gekose kapteins het ook in die Sufsee verdrink.

5. Die dieptes het hulle toegedek. Hulle het na die dieptes gesink soos ’n klip.

6. יהוה, U regterhand is vorstelik in krag. U regterhand, יהוה, verpletter die vyand.

7. In U oorvloedige grootheid gooi U diegene neer wat teen U opstaan. U stuur U brandende woede uit en dit verteer hulle soos stoppels.

8. Met die blaas van U neusgate het die waters opgehoop, die strome het bly staan soos ’n wal, die dieptes het styf geword in die hart van die see.

9. Die vyand het gesê: ‘Ek sal agtervolg, inhaal, die buit verdeel, my begeerte sal oor hulle versadig word; ek sal my swaard uittrek, my hand sal hulle vernietig.’

10. U het met U asem geblaas en die see het hulle toegedek; soos lood het hulle gesink in die magtige waters.

11. יהוה, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, groot in afgesonderdheid, eerbiedwaardig in lofprysing, in die doen van wonderwerke?

12. U het U regterhand uitgesteek, die aarde het hulle ingesluk.

13. U het deur U onverdiende guns die volk wat U losgekoop het uitgelei; U het hulle deur U sterkte na U afgesonderde blyplek gelei.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 15