Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 12:1-17 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. יהוה het met Moshe en Aharon in die land van Mitzrayim gepraat en gesê:

2. “Hierdie maand sal vir julle die begin van die maande wees; dit sal vir julle die eerste van die maande van die jaar wees.

3. Praat met die hele vergadering van Yisra’el en sê: Op die tiende van hierdie maand sal elke man vir homself, volgens die huis van sy vader, ’n lam vat. ’n Lam vir elke huishouding.

4. As ’n huisgesin te klein is vir ’n lam, dan moet hy en sy buurman, wat langs sy huis is, dit vat volgens die getal mense; na wat elkeen gewoond is om te eet, moet julle die getal op die lam bereken.

5. Julle lam moet perfek, sonder fout wees, ’n rammetjie in sy eerste jaar. Julle mag dit uit die skape of uit die bokke vat.

6. Julle moet dit oppas tot die veertiende dag van dieselfde maand, dan moet die hele vergadering van Yisra’el dit teen sonsondergang slag.Luk 22:7

7. Julle moet van die bloed vat en dit aan die twee deurposte en aan die bo-kosyn van die huise waarin hulle dit eet, smeer.

8. Julle moet die vleis in daardie nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode en bitter kruie moet julle dit eet.

9. Julle moet dit nie rou eet of as dit in water gaar gekook is nie, maar oor die vuur gebraai, die kop, pootjies en die binnegoed.

10. Julle mag ook niks daarvan laat oorbly tot die oggend toe nie en wat daarvan oorbly tot die oggend toe, moet julle met vuur verbrand.

11. Só moet julle dit eet: julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; julle moet haastig eet. Dit is Pesag tot יהוה,

12. want Ek sal in hierdie nag deur die land van Mitzrayim gaan en al die eersgeborenes van mense sowel as van diere in die land van Mitzrayim slaan. Ek sal oordeelEks 18:11 uitoefen oor al die gode van Mitzrayim. Ek is יהוה.

13. Die bloed aan die huise waarin julle is, sal vir julle ’n teken wees; as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan en die plaag sal nie op julle wees om julle te vernietig wanneer Ek die land van Mitzrayim slaan nie.

14. Hierdie dag sal vir julle ’n gedenkdag wees en julle moet dit as ’n fees tot eer van יהוה vier, reg deur julle geslagte. Julle moet dit hou as ’n ewige vasgestelde tyd.

15. Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet. Op die eerste dag moet julle suurdeeg uit julle huise verwyder, want elkeen wat enige iets gesuurd eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié lewe moet van Yisra’el afgesny word.

16. Op die eerste dag moet daar ’n afgesonderde bymekaarkoms wees en ook op die sewende dag moet daar vir julle ’n afgesonderde bymekaarkoms wees. Daar mag géén werk op dié dae gedoen word nie, behalwe vir elkeen om te eet, dit alleen mag deur julle voorberei word.Eks 16:23; Eks 35:3

17. Onderhou die Ongesuurde Brode, want op hierdie selfde dag het Ek julle leërs uit die land van Mitzrayim uitgelei; daarom moet julle hierdie dag in julle geslagte as ’n ewige vasgestelde tyd hou.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 12