Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 32:10-24 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. Hy het hom gevind in ’n woestynland, in ’n woeste gehuil van ’n wildernis. Hy het hom omring, vir hom omgegee, hom bewaak soos die appel van Sy oog;

11. soos ’n arend wat Sy nes opbreek, oor Sy kleintjies sweef, Sy vlerke oopsprei en hulle vang; hulle dra op Sy vlerke.

12. יהוה alleen het hom gelei en daar was geen vreemde god by hom nie.

13. Hy het hom laat ry op die hoë plekke van die aarde en hy het die opbrengs van die veld geëet; Hy het hom heuning uit die rots laat suig en olie uit die harde rots;

14. dikmelk vanaf beeste en melk vanaf kleinvee, met die vet van lammers, ramme van Bashan en bokke, met die fynste van die koring en van die bloed van druiwe het jy wyn gedrink,

15. maar Yeshurun het vet geword en geskop; hy het vet, dik en blink geword; toe het hy die God verwerp wat hom gemaak het en die Rots van sy verlossing geminag.

16. Hulle het Hom jaloers gemaak met vreemde gode; deur verwerplikhede het hulle Hom uitgetart tot woede.

17. Hulle het aan demone geoffer, wat nie God is nie, aan gode wat hulle nie geken het nie; nuwes wat onlangs gekom het, vir wie julle vaders nie bang was nie.

18. Die Rots wat jou verwek het, het jy verwaarloos en jy het die Magtige God vergeet wat aan jou geboorte gegee het.

19. יהוה het dit gesien en Hy het hulle verwerp as gevolg van die uittarting van Sy seuns en dogters.

20. Toe het Hy gesê: “Ek sal My gesig vir hulle wegsteek, Ek sal sien wat hulle einde sal wees, want hulle is ’n verdorwe geslag, seuns in wie geen vertrouenswaardigheid is nie.Rom 10:19; Rom 11:11

21. Hulle het My jaloers gemaak met wat nie God is nie, My uitgetart tot woede met hulle afgode. Ék sal hulle dus jaloers maak met dié wat nie ’n volk is nie, deur ’n dwase nasie sal Ek hulle uittart tot woede,

22. want ’n vuur is aangesteek in My woede en brand tot in die laagste dele van Sh’ol, dit het die aarde met sy opbrengs verteer en die fondamente van die berge aan die brand gesteek.

23. Ek sal booshede op hulle ophoop; My pyle sal Ek op hulle gebruik.

24. Hulle sal uitgeput wees van honger en verteer deur plae en bitter vernietiging. Ek sal die tande van wilde diere teen hulle stuur met die gif van dinge wat in die stof kruip.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 32