Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 19:4-16 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

4. Dit is die saak vir hom wat manslag begaan het, wat daarheen vlug sodat hy kan lewe: hy wat sy vriend sonder opset doodslaan terwyl hy hom in die verlede nie gehaat het nie;

5. soos byvoorbeeld hy wat saam met sy vriend in die bos ingaan om hout te kap en sy hand swaai met die byl om die boom af te kap en die yster glip van die steel af en tref sy naaste sodat hy sterf; hy moet na een van hierdie stede vlug om te bly lewe;

6. anders agtervolg die bloedwreker hom wat manslag begaan het en haal hom in omdat die pad lank is en slaan hom dood terwyl sy emosie warm is terwyl hy die dood nie verdien het nie omdat hy hom van gister en eergister af nie gehaat het nie.

7. Ek gee daarom aan jou bevel en sê: ‘Jy moet vir jou drie stede afsonder.’

8. As יהוה, jou God, jou grondgebied vergroot, soos Hy aan jou vaders met ’n eed beloof het en jou die hele land gee wat Hy beloof het om aan jou vaders te gee,

9. as jy versigtig al hierdie opdragte uitvoer wat ek jou vandag beveel om te doen, om יהוה, jou God, lief te hê en altyd op sy paaie te loop; dan moet jy vir jou nog drie stede byvoeg bo en behalwe hierdie drie

10. sodat geen onskuldige bloed vergiet word binne-in jou land wat יהוה, jou God, jou as besitting gee en skuld vir bloedvergieting op jou kom nie,

11. maar as daar ’n man is wat sy naaste haat en hom voorlê en teen hom opstaan en hom slaan sodat hy sterf en hy na een van hierdie stede vlug,

12. dan moet die oudstes van sy stad stuur en hom daarvandaan laat haal en hulle moet hom in die hand van die bloedwreker oorgee sodat hy kan sterf.

13. Jou oog mag hom nie jammer kry nie, maar jy moet hom doodmaak en die skuld van onskuldige bloedvergieting uit Yisra’el verwyder dat dit met jou goed kan gaan.

14. Jy mag nie jou naaste se landsgrense skuif wat deur die voorvaders getrek is, in jou erfenis wat jy sal erf in die land wat יהוה, jou God, jou gee om te besit nie.Mat 18:16; Yog 8:17; 2 Kor 13:1; 1 Tim 5:19; Heb 10:28

15. ’n Enkel getuie mag nie teen iemand opstaan insake enige oortreding of enige sonde wat hy begaan het nie; deur die getuienis van twee of drie getuies sal ’n saak vasgestel word.

16. As ’n kwaadwillige getuie teen iemand opstaan om hom te beskuldig dat hy verkeerd gedoen het,

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 19