Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 19:2-12 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

2. moet jy vir jou drie stede opsy sit in jou land wat יהוה, jou God, jou gee om te besit.

3. Jy moet vir jouself paaie voorberei en jou grondgebied wat יהוה, jou God, jou as besitting gee, in drie dele verdeel sodat elkeen wat manslag begaan het, daarheen kan vlug.

4. Dit is die saak vir hom wat manslag begaan het, wat daarheen vlug sodat hy kan lewe: hy wat sy vriend sonder opset doodslaan terwyl hy hom in die verlede nie gehaat het nie;

5. soos byvoorbeeld hy wat saam met sy vriend in die bos ingaan om hout te kap en sy hand swaai met die byl om die boom af te kap en die yster glip van die steel af en tref sy naaste sodat hy sterf; hy moet na een van hierdie stede vlug om te bly lewe;

6. anders agtervolg die bloedwreker hom wat manslag begaan het en haal hom in omdat die pad lank is en slaan hom dood terwyl sy emosie warm is terwyl hy die dood nie verdien het nie omdat hy hom van gister en eergister af nie gehaat het nie.

7. Ek gee daarom aan jou bevel en sê: ‘Jy moet vir jou drie stede afsonder.’

8. As יהוה, jou God, jou grondgebied vergroot, soos Hy aan jou vaders met ’n eed beloof het en jou die hele land gee wat Hy beloof het om aan jou vaders te gee,

9. as jy versigtig al hierdie opdragte uitvoer wat ek jou vandag beveel om te doen, om יהוה, jou God, lief te hê en altyd op sy paaie te loop; dan moet jy vir jou nog drie stede byvoeg bo en behalwe hierdie drie

10. sodat geen onskuldige bloed vergiet word binne-in jou land wat יהוה, jou God, jou as besitting gee en skuld vir bloedvergieting op jou kom nie,

11. maar as daar ’n man is wat sy naaste haat en hom voorlê en teen hom opstaan en hom slaan sodat hy sterf en hy na een van hierdie stede vlug,

12. dan moet die oudstes van sy stad stuur en hom daarvandaan laat haal en hulle moet hom in die hand van die bloedwreker oorgee sodat hy kan sterf.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 19