Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 11:4-16 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

4. wat Hy gedoen het aan die leër van Mitzrayim, aan sy perde en aan sy strydwaens; hoe Hy die water van die Sufsee oor hulle laat stroom het terwyl hulle julle agtervolg het en יהוה hulle heeltemal vernietig het;

5. wat Hy vir julle in die wildernis gedoen het om te kom tot op hierdie plek;

6. wat Hy aan Datan en Aviram, die seuns van Eli’av, die seun van Re’uven, gedoen het: hoe die aarde sy mond oopgemaak en hulle saam met hul huisgesinne, hul tente en alles aan hulle voete, tussen die hele Yisra’el uit, ingesluk het,

7. maar julle eie oë het al die groot werke wat יהוה gedoen het, gesien;

8. daarom moet julle elke opdrag hou wat ek jul vandag beveel sodat julle sterk kan wees en ingaan en die land in besit neem waarheen julle oortrek, om dit in besit te neem

9. sodat julle jul dae kan verleng in die land wat יהוה aan julle vaders met ’n eed beloof het om aan hulle en hul nageslag te gee, ’n land wat vloei met melk en heuning,

10. want die land waar jy ingaan om dit te besit, is nie soos die land van Mitzrayim waaruit julle gekom het nie, waar jy jou saad gesaai en per voet, soos in ’n groentetuin, natgelei het, nie,

11. maar die land waarheen julle oortrek, om dit te besit, is ’n land van heuwels en valleie wat van die reën van die hemel water drink;

12. ’n land waarvoor יהוה, jou God, sorg; die oë van יהוה, jou God, is altyddeur daarop, van die begin van die jaar af tot die einde van die jaar toe.

13. Dit sal wees, as julle aandag gee om My opdragte, wat Ek julle vandag beveel, te gehoorsaam: om יהוה, julle God, lief te hê en Hom te dien met julle hele verstand, wil en emosie en met julle hele gees en lewe,

14. dan sal Ek die reën vir julle land gee in sy seisoene, vroeë reëns en laat reëns sodat jy jou koring en jou nuwe wyn en jou olie kan insamel.

15. Ek sal gras gee op jou veld vir jou vee en jy sal eet en versadig wees.

16. Wees versigtig dat julle verstand, wil en emosie nie mislei word sodat julle wegdraai, ander gode dien en voor hulle neerbuig nie

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 11