Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 11:10-28 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. want die land waar jy ingaan om dit te besit, is nie soos die land van Mitzrayim waaruit julle gekom het nie, waar jy jou saad gesaai en per voet, soos in ’n groentetuin, natgelei het, nie,

11. maar die land waarheen julle oortrek, om dit te besit, is ’n land van heuwels en valleie wat van die reën van die hemel water drink;

12. ’n land waarvoor יהוה, jou God, sorg; die oë van יהוה, jou God, is altyddeur daarop, van die begin van die jaar af tot die einde van die jaar toe.

13. Dit sal wees, as julle aandag gee om My opdragte, wat Ek julle vandag beveel, te gehoorsaam: om יהוה, julle God, lief te hê en Hom te dien met julle hele verstand, wil en emosie en met julle hele gees en lewe,

14. dan sal Ek die reën vir julle land gee in sy seisoene, vroeë reëns en laat reëns sodat jy jou koring en jou nuwe wyn en jou olie kan insamel.

15. Ek sal gras gee op jou veld vir jou vee en jy sal eet en versadig wees.

16. Wees versigtig dat julle verstand, wil en emosie nie mislei word sodat julle wegdraai, ander gode dien en voor hulle neerbuig nie

17. en die woede van יהוה teen julle brand en Hy die hemel toesluit sodat daar geen reën is en die aarde geen opbrengs gee nie en julle gou vanuit die goeie land wat יהוה julle gee, omkom nie;

18. daarom moet julle hierdie woorde van My in julle verstand en in julle gees ingraveer en dit as ’n teken op julle hand vasbind en dit as ’n voorhoofsband tussen julle oë laat wees.

19. Jy moet dit vir jou seuns leer, deur daaroor te praat as jy in jou huis sit, as jy op pad is, as jy gaan lê en as jy opstaan

20. en skryf dit op die kosyne van jou huis en op jou hekke

21. sodat julle dae en die dae van julle seuns vermenigvuldig kan word, in die land wat יהוה aan julle vaders met ’n eed beloof het om aan hulle te gee, so lank as die hemele bo die aarde bly,

22. want as julle versigtig is om al hierdie opdragte te hou, wat Ek julle beveel om te doen: om יהוה, julle God, lief te hê, in al Sy paaie te loop en aan Hom vas te hou,

23. dan sal יהוה al hierdie nasies voor julle uit verdryf en julle sal nasies, wat groter en magtiger is as julleself, onteien.

24. Elke plek waar julle voetsool op trap, sal aan julle behoort; vanaf die wildernis tot by L’vanon, van die rivier, die Eufraatrivier, tot by die Westelike See sal julle grondgebied wees.

25. Geen man sal teen julle kan standhou nie; יהוה, julle God, sal die skrik en vrees vir julle oor die hele land, waarop julle sal loop, laat kom soos Hy julle beloof het.

26. Let op, ek hou julle vandag ’n seën en ’n vloek voor:

27. die seën as julle luister na en die opdragte van יהוה, julle God, wat ek julle vandag beveel, uitvoer

28. en die vloek as julle nie luister na die opdragte van יהוה, julle God en dit nie doen nie, maar wegdraai van die pad wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop wat julle nie geken het nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 11