hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Dani'el 4 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Toe het N’vukhadnetzar, die koning, aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde bly geskryf: “Mag julle vrede vermenigvuldig word!

2. Ek het dit goed gedink om die tekens en wonders wat die Allerhoogste God aan my gedoen het, te publiseer.

3. Hoe groot is Sy tekens en hoe magtig Sy wonderwerke! Sy Koninkryk is ’n ewige Koninkryk en Sy heerskappy is van geslag tot geslag!

4. Ek, N’vukhadnetzar, was rustig in my huis en ontspanne in my paleis.

5. Ek het ’n droom gesien wat my bang gemaak het en die visioene van my kop het my gepla;

6. daarom het ek beveel om al die wyse manne van Bavel voor my te bring sodat hulle die betekenis van die droom aan my bekend kan maak.

7. Toe het die voorspellers, die sterrekundiges, die towenaars en die Kasdeërs voor my gekom en ek het aan hulle die droom vertel, maar hulle kon nie die betekenis daarvan aan my openbaar nie

8. totdat Dani’el, in wie die Gees van die Afgesonderde God is, voor my gekom het, wie se naam Belt’shatzar is, volgens die naam (karakter en outoriteit) van my god en ek het die droom voor hom vertel:

9. ‘Belt’shatzar, owerste van die towenaars, omdat ek weet dat die Gees van die Afgesonderde God in jou is en dat geen geheim vir jou weggesteek is nie, hierdie is die visioen van my droom wat ek gesien het; vertel my die betekenis daarvan.

10. Hierdie is die visioene wat ek in my bed gesien het; ek het gesien en let op, daar was ’n boom in die middel van die aarde en sy hoogte was groot.

11. Die boom het hoog gegroei en was sterk en sy hoogte het tot by die hemel gekom en hy kon gesien word tot aan die einde van die aarde.

12. Sy blare was mooi en sy vrugte oorvloedig en aan hom was kos vir almal; die diere van die veld het onder hom gebly en die voëls van die hemel het op sy takke gerus en alle vlees is vanaf hom gevoed.

13. Ek het in die visioene van my kop op my bed, gesien en let op, ’n afgesonderde engel het van die hemel af afgekom.

14. Hy het hardop uitgeroep en die volgende gesê: “Kap die boom om en kap sy takke af, skud sy blare af en verstrooi sy vrugte; laat die diere onder hom uit weggaan en die voëls uit sy takke uit.

15. Nogtans, laat die stomp en sy wortels in die aarde staan, maar dit sal met ’n band van yster en koper in die groen gras van die veld gebind wees en laat hom deur die dou van die hemel natgemaak word en saam met die diere by die gras van die aarde bly.

16. Laat sy hart verander word van dié van ’n mens en ’n dierehart aan hom gegee word en laat sewe seisoene oor hom verander.

17. Hierdie bevel is in opdrag van die engel, volgens ’n versoek van die Afgesonderde Een sodat hulle wat leef kan weet dat die Allerhoogste God in die koninkryk van die mens heers en dit aan wie ook al Hy wil gee en die nederigste van mense daaroor aanstel.”

18. Hierdie droom het ek, koning N’vukhadnetzar, gesien. Nou, jy, Belt’shatzar, vertel vir my die betekenis daarvan omdat al die wyse manne van my koninkryk nie vir my die betekenis bekend kon maak nie, maar jy, Dani’el is daartoe in staat, want die Gees van die Afgesonderde God is in jou.’

19. Toe was Dani’el, wie se naam Belt’shatzar was, vir ’n uur verward en sy gedagtes het hom gepla. Die koning het gepraat en gesê: ‘Belt’shatzar, moenie dat die droom of die betekenis jou omkrap nie.’ Dani’el het geantwoord en gesê: ‘My meester, mag die droom wees vir hulle wat u haat en die betekenis vir u vyande.

20. Die boom wat u gesien het, wat gegroei het en sterk was, waarvan die hoogte tot by die hemel gekom het en wat vir die hele aarde sigbaar was

21. en waarvan die blare mooi en die vrugte oorvloedig was en waarin kos vir alle vlees was, waaronder die diere van die veld gebly het en waar die voëls van die hemel op sy takke gerus het,

22. dit is u, o koning, want u het gegroei en sterk geword, u het hoog gegroei en die hemel bereik en u heerskappy is tot aan die einde van die aarde.

23. Waar die koning ’n afgesonderde engel uit die hemel sien afkom het wat hardop uitroep en sê: ‘Kap die boom om en vernietig hom, maar laat die stomp en wortels in die aarde staan en laat dit met ’n band van yster en koper in die groen gras van die veld gebind word en laat hom deur die dou van die hemel natgemaak word en laat hom bly saam met die diere van die veld in die groen gras en laat sy hart verander word van dié van ’n mens en ’n dierehart aan hom gegee word totdat sewe seisoene oor hom verander het.’

24. Hierdie is die betekenis, o koning, die bevel van die Allerhoogste het teen my meester, die koning, gekom:

25. hulle sal u wegdryf van mense af en u blyplek sal saam met die diere van die veld wees en hulle sal u gras laat eet soos ’n jong bul en u sal deur die dou van die hemel natgemaak word en sewe seisoene sal oor u verander totdat u weet dat die Allerhoogste heers in die koninkryk van die mens en dit gee aan wie ook al Hy wil.

26. Waar Hy bevel gegee het om die stomp en wortels te spaar: u koninkryk sal vir u verseker wees nadat u geleer het dat outoriteit vanaf die hemel kom;

27. daarom, laat my raad vir u aanvaarbaar wees en raak ontslae van u sondes deur onpartydige opregtheid en van u oortredinge deur liefdevolle omgee aan die armes totdat u oortredinge van u verwyder is.’

28. Al hierdie dinge het oor koning N’vukhadnetzar gekom.

29. Aan die einde van twaalf maande terwyl koning N’vukhadnetzar op die dak van die koninklike paleis, wat in Bavel is, loop,

30. het hy gepraat en gesê: ‘Is dit nie die groot Bavel wat ek opgebou het as die troon van my koninkryk en vir my groot heerskappy en my majesteit nie?’

31. Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, kom daar ’n stem uit die hemel wat sê: “O, koning N’vukhadnetzar, met jou word gepraat, want jou koninkryk is van jou weggevat

32. en hulle sal jou wegdryf van mense af en jou blyplek sal saam met die diere van die veld wees; hulle sal jou maak plante eet soos ’n jong bul en jy sal deur die dou van die hemel natgemaak word en sewe seisoene sal oor jou verander totdat jy weet dat die Allerhoogste in die koninkryk van die mens heers en dit gee aan wie Hy ook al wil en Hy stel die nederigste van mense daaroor aan.”

33. In dieselfde uur is die woord vervul oor koning N’vukhadnetzar en hy is weggedryf van mense af en het gras geëet soos ’n jong bul en sy liggaam was nat van die dou van die hemel totdat sy hare gegroei het soos ’n arend se vere en sy naels soos voëlkloue.

34. Toe die dae vervul was, het ek, N’vukhadnetzar, my oë na die hemel opgelig en my verstand is in my herstel en ek het die Allerhoogste, Wie se heerskappy ’n ewige heerskappy is en Wie se Koninkryk van geslag tot geslag is, geloof en Hom wat ewig lewe, geprys, geloof en geëer.

35. Al die inwoners van die aarde word as niks gereken in Sy Teenwoordigheid nie en Hy handel soos Hy wil met die leërmag van die hemel en hulle wat op die aarde woon en niemand kan Sy hand teëstaan of vir Hom sê: “Wat doen U?” nie.

36. Terselfdertyd het my verstand na my teruggekeer en my prinse en generaals het my opgesoek en ek is bevestig in my koninkryk en buitengewone grootheid is vir my bygevoeg.

37. Nou loof, prys en eer, ek, N’vukhadnetzar en lig ek die Koning van die hemel hoog, want al Sy werke is waarheid en Sy lewenswyses regverdig en Hy is in staat om hulle wat in trotsheid lewe te verneder.”