Ou Testament

Nuwe Testament

Dani'el 3:7-20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

7. daarom, op die oomblik toe al die volke die geluid van die horing, fluit, harp, doedelsak en van allerhande musiek met instrumente hoor, het al die volke, nasies en tale neergeval en die goue beeld aanbid wat koning N’vukhadnetzar opgerig het.

8. Op daardie oomblik het sekere Kasdeërs nader gekom en hulle, wat vanaf Y’hudah is, aangekla.

9. Hulle het vir koning N’vukhadnetzar gesê: “O koning, leef vir ewig.

10. U, o koning, het ’n bevel gegee dat elke mens wat die geluid van die horing, fluit, harp, doedelsak en van allerhande musiek met instrumente hoor, moet neerval en die goue beeld, wat u opgerig het, aanbid

11. en dat hy wat nie neerval en aanbid nie, binne-in die brandende vuuroond gegooi moet word.

12. Daar is sekere manne van Y’hudah wat u oor die bestuur van die provinsie van Bavel aangestel het, Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go; hierdie manne het u, o koning, nie in ag geneem nie; hulle dien nie u gode nie en aanbid ook nie die goue beeld wat u opgerig het nie.

13. Toe het N’vukhadnetzar in sy toorn en woede, bevel gegee om Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go te bring en hulle het hul voor die koning gebring.

14. Toe het N’vukhadnetzar gepraat en vir hulle gevra: “Is dit waar, Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go, dat julle my gode nie dien nie en ook nie die goue beeld wat ek opgerig het, aanbid nie?

15. Nou, as julle gereed is, sodra julle die geluid van die horing, fluit, harp, doedelsak en van allerhande musiek met instrumente hoor en neerval en die beeld wat ek gemaak het aanbid, goed, maar as julle nie aanbid nie, sal julle onmiddellik binnein die brandende vuuroond gegooi word en wie is jul God wat julle uit my hand sal verlos?”

16. Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go het geantwoord en aan koning N’vukhadnetzar gesê: “Daar is geen doel om u op hierdie saak te antwoord nie,

17. want Hy, ons God wat ons aanbid, is in staat om ons te bevry van die brandende vuuroond en Hy sal ons uit u hand bevry, o koning.

18. Selfs indien nie, dan sal die koning weet dat ons nie u gode sal dien nie en ook nie die goue beeld wat u opgerig het, sal aanbid nie.”

19. Toe is N’vukhadnetzar, die koning, gevul met woede en sy gelaatstrekke het verander teenoor Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go en hy het beveel dat die vuuroond sewe maal warmer as gewoonlik gemaak moet word.

20. Hy het sommige van die sterk manne wat in sy leër was, beveel om Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go vas te bind en hulle in die brandende vuuroond te gooi.

Lees volledige hoofstuk Dani'el 3