Ou Testament

Nuwe Testament

Dani'el 3:21-30 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

21. Toe het die sterk manne hulle geboei met hulle broeke, hulle onderklere, hul boklere en hulle tulbande aan en hulle in die brandende vuuroond gegooi.

22. Omdat die bevel van die koning dringend was en die oond uitermate warm was, het die vlamme van die vuur daardie manne wat Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go beskuldig het, doodgebrand,

23. maar die drie manne, Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go, het vasgebind binne-in die brandende vuuroond geval. Hulle het opgestaan en tussen die vlamme geloop, God geprys en יהוה geseën.

24. Toe is koning N’vukhadnetzar verskrik en het haastig opgestaan in groot vrees; hy het gepraat en vir sy prinse gevra: “Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie?” Hulle antwoord en sê vir die koning: “Dit is waar, o koning!”

25. Die koning antwoord en sê: “Let op, ek sien manne los binne-in die vuur loop sonder dat hulle beseer is en die voorkoms van die vierde is soos dié van 'n seun van God.”

26. Toe het N’vukhadnetzar nader gekom na die opening van die brandende vuuroond en gesê: “Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go, diensknegte van die Allerhoogste God, kom uit en kom hier!” Toe het Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go uit die vuuroond uitgekom.

27. Al die mense, bevelvoerders van die weermag, goewerneurs, landmeesters en die raadsmanne van die koning, wat almal bymekaar was, het hierdie manne gesien oor wie se liggame die vuur geen mag gehad het nie, of wie se hare op hulle koppe nie geskroei is nie, of wie se broeke nie gebrand is nie of die reuk van die vuur nie aan gekom het nie.

28. Toe het N’vukhadnetzar gepraat en gesê: “Geseënd is die God van Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go, wat Sy boodskapper gestuur en Sy knegte bevry het wat in Hom vertrou en die koning se woord verwerp en hulle liggame oorgegee het omdat hulle geen ander god sou dien of aanbid nie, behalwe hulle eie God;

29. daarom maak ek hierdie bevel: elke volk, nasie of taal wat sleg praat teen die God van Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go, sal in stukke gesny word en hulle huise geplunder word, want daar is geen ander god wat op dié manier kan bevry nie.”

30. Toe het die koning Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go bevordering gegee in die provinsie van Bavel.

Lees volledige hoofstuk Dani'el 3