Ou Testament

Nuwe Testament

Dani'el 2:40-49 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

40. Die vierde koninkryk sal sterk wees soos yster, want net soos yster alles hamer en in stukke breek, so sal dit elke koninkryk breek en oorwin.

41. Waar u die voete en tone gesien het as deels van pottebakkersklei en deels van yster, sal die koninkryk verdeeld wees, maar daarin sal sommige van die krag van yster wees, net soos u die yster met kleigrond gemeng gesien het.

42. Die tone van die voete wat u gesien het, deels van yster en deels van klei, so sal sommige dele van die koninkryk sterk wees en sommige dele swak.

43. Waar u yster gemeng met kleigrond gesien het, so sal hulle hulleself met ’n ander vermeng deur die huwelik, maar hulle sal nie aan mekaar vaskleef nie, net soos yster nie met klei meng nie.

44. In die dae van hierdie konings sal die God van die hemel ’n ewige Koninkryk opwek, wat nooit vernietig sal word nie en die Koninkryk sal nie aan ander volke oorgelaat word nie, maar dit sal al daardie koninkryke in stukke breek en ’n einde daaraan maak, maar ditself sal vir ewig staan.

45. Soos u gesien het dat die klip uit die berg gekap is sonder toedoen van mensehande en dat dit die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud in stukke gebreek het, het die groot God aan die koning bekend gemaak wat in die laaste dae sal gebeur. Die droom is waar en sy betekenis betroubaar.”

46. Toe val koning N’vukhadnetzar op sy gesig en betoon eer aan Dani’el en beveel dat hulle wierook en offers vir hom moet bring.

47. Die koning antwoord Dani’el en sê: “Waarlik, julle God is die God van die gode en die Meester van konings en ’n Openbaarder van geheime, want jy was in staat om hierdie geheim te openbaar.”

48. Toe het die koning Dani’el se rang verhoog en aan hom baie geskenke gegee en hom aangestel as heerser oor die hele provinsie van Bavel en as hoof oor al die generaals en oor die wyse manne van Bavel.

49. Toe het Dani’el van die koning versoek en vir Shadrakh, Meishakh en `Aved-N’go aangestel oor die bestuur van die provinsie Bavel, maar Dani’el self het in die poort van die koning gebly.

Lees volledige hoofstuk Dani'el 2