Ou Testament

Nuwe Testament

2 Sh'mu'el 3:14-26 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

14. Dawid het boodskappers na Ish-Boshet, Sha’ul se seun gestuur, om te sê: “Gee vir my my vrou Mikhal, aan wie ek verloof was vir tweehonderd voorhuide van die F’lishtyne.”

15. Ish-Boshet het gestuur en haar van haar man, Palti’el, die seun van Layish, weggevat,

16. maar haar man het saam met haar gegaan, al huilende op pad en haar gevolg tot by Bagurim. Toe sê Avner vir hom: “Gaan terug.” Hy het daarop teruggegaan.

17. Avner het met die oudstes van Yisra’el beraadslag en gesê: “In die verlede het julle begeer dat Dawid koning moes wees oor julle.

18. Doen dit dan nou, want יהוה het van Dawid gepraat en gesê: ‘Deur die hand van My kneg Dawid sal Ek My volk Yisra’el uit die hand van die F’lishtyne en uit die hand van al hulle vyande red.”

19. Avner het ook voor die ore van Binyamin gepraat en Avner het ook gegaan om voor die ore van Dawid in Hevron te praat van alles wat goed was vir Yisra’el en vir die hele huis van Binyamin.

20. Toe het Avner en twintig man saam met hom, by Dawid in Hevron gekom en Dawid het ’n fees berei vir Avner en die manne wat by hom was.

21. Avner het vir Dawid gesê: “Laat my opstaan en die hele Yisra’el by my meester die koning gaan versamel sodat hulle met u ’n verbond kan sluit en dat u koning kan wees oor alles wat u verstand, wil en emosie begeer.” Dawid het vir Avner weggestuur en hy het in vrede gegaan.

22. Let op, die diensknegte van Dawid en Yo’av het van ’n rooftog af gekom en baie buit saam met hulle gebring, maar Avner was nie meer by Dawid in Hevron nie, want dié het hom weggestuur en hy het in vrede gegaan.

23. Toe Yo’av en die hele leër wat saam met hom was, arriveer, het hulle vir Yo’av vertel en gesê: “Avner, die seun van Ner, het na die koning toe gekom en dié het hom weggestuur en hy het in vrede gegaan.”

24. Toe kom Yo’av by die koning en sê: “Wat het u gedoen? Let op, Avner het na u toe gekom; waarom het u hom dan weggestuur en hy is reeds weg?

25. U ken vir Avner, die seun van Ner, dat hy gekom het om u te mislei en om te leer van u uitgang en u ingang en om alles uit te vind wat u doen.”

26. Toe Yo’av uitkom by Dawid, het hy boodskappers agter Avner aan gestuur en hulle het hom teruggebring van die put van Sirah Hassira af, maar Dawid het dit nie geweet nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Sh'mu'el 3