Ou Testament

Nuwe Testament

2 Sh'mu'el 14:15-26 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

15. Die rede hoekom ek hierdie boodskap vir my meester die koning gebring het, is omdat die mense my bang gemaak het. U dienares het gedink: ‘Laat ek nou met die koning praat, miskien sal die koning die versoek van sy dienares toestaan,

16. want die koning sal luister en sy dienares bevry uit die hand van die man wat probeer om beide my en my seun te vernietig uit die erfenis van God.’

17. Toe het u dienares gesê: ‘Laat die woord van my meester die koning asseblief vertroostend wees, want soos die boodskapper van God, so is my meester die koning om goed en boos te onderskei en mag יהוה, u God, by u wees!’”

18. Toe antwoord die koning en sê vir die vrou: “Moet asseblief nie enige iets vir my wegsteek wat ek jou sal vra nie.” Die vrou het gesê: “Laat my meester die koning asseblief praat.”

19. Die koning het gevra: “Is Yo’av se hand saam met jou in dit alles?” Die vrou antwoord: “So waar as wat u leef, my meester die koning, niemand kan regs of links afwyk van enige iets wat my meester die koning gesê het nie. Inderdaad, dit was u dienskneg Yo’av wat my beveel het en dit is hy wat al hierdie woorde in u dienares se mond gelê het.

20. Om dinge anders te laat lyk, het u dienskneg Yo’av hierdie ding gedoen, maar my meester is wys, soos die wysheid van die boodskapper van God, om alles te weet wat op die aarde is.”

21. Toe sê die koning vir Yo’av: “Nou let op, ek sal dit doen. Gaan daarom, bring die jongman Avshalom terug.”

22. Yo’av het op sy gesig op die grond neergeval, uitgestrek op die grond gelê en die koning geseën. Toe sê Yo’av: “My meester die koning, vandag weet u dienskneg dat ek guns in u oë gevind het omdat die koning die versoek van sy dienskneg uitgevoer het.”

23. Yo’av het opgestaan, na G’shur gegaan en vir Avshalom na Yerushalayim gebring.

24. Die koning het egter gesê: “Laat hom na sy eie huis gaan en nie my gesig sien nie.” Avshalom het na sy eie huis gegaan en nie die gesig van die koning gesien nie.

25. Nou, in die hele Yisra’el was daar geen man so aantreklik soos Avshalom en so hoog geprys nie; van sy voetsool af tot by die kroon van sy kop, was daar geen gebrek aan hom nie.

26. Wanneer hy die hare van sy kop laat skeer het, (dit was aan die einde van elke jaar dat hy dit geskeer het), want dit was swaar op hom; daarom het hy dit geskeer; het hy die hare van sy kop teen twee honderd sikkels geweeg volgens die koninklike gewig.

Lees volledige hoofstuk 2 Sh'mu'el 14