Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 4:12-25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

12. Toe het hy vir Geigazi, sy dienskneg, gesê: “Roep hierdie Shunamitiese vrou.” Toe hy haar geroep het, het sy voor hom gestaan.

13. Hy het vir hom gesê: “Vra haar nou: ‘Let op, jy was vol sorg teenoor ons met al hierdie omgee; wat kan ek vir jou doen? Moet daar vir jou ’n goeie woord gedoen word by die koning of by die bevelvoerder van die leër?” Sy antwoord: “Ek leef onder my eie mense.”

14. Hy sê: “Wat kan dan vir haar gedoen word?” Geigazi antwoord: “Dit is waar, sy het geen seun nie en haar man is oud.”

15. Hy het gesê: “Roep haar.” Toe hy haar geroep het, het sy in die deur gestaan.

16. Toe sê hy: “Tydens hierdie seisoen volgende jaar sal jy ’n seun vashou.” Sy sê: “Nee, my meester, o, man van God, moenie vir u dienares lieg nie!”

17. Die vrou het swanger geword en geboorte gegee aan ’n seun in daardie seisoen die volgende jaar, soos Elisha vir haar gesê het.

18. Toe die seun opgegroei het, het die dag gekom dat hy uitgegaan het na sy vader, na die maaiers.

19. Hy het vir sy vader gesê: “My kop, my kop!” Dié sê toe vir sy dienskneg: “Dra hom na sy moeder toe.”

20. Toe hy hom gevat en na sy moeder gebring het, het hy op haar skoot gesit tot die middag toe en gesterf.

21. Sy het opgegaan en hom op die bed van die man van God neergelê en agter hom toegesluit en uitgegaan.

22. Toe roep sy haar man en sê: “Stuur asseblief vir my een van die diensknegte en een van die donkies sodat ek gou na die man van God kan gaan en terugkom.”

23. Hy sê: “Waarom sal jy vandag na hom toe gaan? Dit is nie nuwemaan of Shabbat nie.” Sy antwoord: “Shalom (Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid)!”

24. Toe saal sy die donkie op en sê vir haar dienskneg: “Jaag aan en gaan vooruit; moenie die pas verslap, behalwe as ek jou sê nie.”

25. Sy het gegaan en by die man van God by die berg Karmel gekom. Toe die man van God haar op ’n afstand sien, sê hy vir sy dienskneg Geigazi: “Let op, daar is dié Shunamiet!

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 4