Ou Testament

Nuwe Testament

1 Sh'mu'el 4:1-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. So het die boodskap van Sh’mu’el tot die hele Yisra’el gekom. Yisra’el het uitgegaan om die F’lishtyne in geveg te ontmoet en langs Even-ha`Ezer gekamp terwyl die F’lishtyne by Afek gekamp het.

2. Die F’lishtyne het opgestel in gevegsorde om Yisra’el te ontmoet. Toe die geveg ontwikkel, is Yisra’el voor die F’lishtyne verslaan, wat ongeveer vier duisend man op die gevegsterrein doodgeslaan het.

3. Toe die manskappe die laer inkom, sê die oudstes van Yisra’el: “Waarom het יהוה ons vandag voor die F’lishtyne verslaan? Laat ons die ark van die verbond van יהוה vanaf Shiloh na ons toe bring dat dit tussen ons inkom en ons verlos van die krag van ons vyande.”

4. Die mense het na Shiloh gestuur en hulle het die ark van die verbond van יהוה van die leërskare, wat bo die gérubs bly, daarvandaan gedra en die twee seuns van `Eli, Hofni en Pin’gas, was daar by die ark van die verbond van God.

5. Soos die ark van die verbond van יהוה die laer inkom, het die hele Yisra’el uitgeroep met ’n groot geskreeu van vreugde sodat die aarde weergalm het.

6. Toe die F’lishtyne die klank van die geskreeu hoor, het hulle gesê: “Wat beteken die geluid van die groot geskreeu in die laer van die Hebreërs?” Toe verstaan hulle dat die ark van יהוה in die kamp ingekom het.

7. Die F’lishtyne was bang, want hulle het gesê: “God het in die kamp ingekom!” Hulle het ook gesê: “Wee ons, want so iets het nog nie vroeër gebeur nie.

8. Wee ons! Wie sal ons red uit die hand van hierdie magtige gode? Hierdie is die gode wat die Mitzrayiete met allerhande plae getref het en wonderwerke in die wildernis gedoen het.

9. Wees dapper en wees manne, F’lishtyne, of julle sal slawe word vir die Hebreërs soos hulle vir julle slawe was; daarom, wees manne en veg.”

10. So het die F’lishtyne geveg, Yisra’el is verslaan en elke man het na sy tent toe gevlug en die slagting was baie groot, want daar het dertig duisend voetsoldate van Yisra’el geval.

11. Die ark van God is ook gevat en die twee seuns van `Eli, Hofni en Pin’gas, het gesterf.

12. ’n Man van Benyamin het van die gevegslyn af gehardloop en dieselfde dag in Shiloh aangekom met sy klere geskeur en stof op sy kop.

13. Toe hy kom, let op, `Eli het op sy sitplek langs die pad gesit, ywerig wagtend, want hy was besorg oor die ark van God. Die man het gekom om dit in die stad te vertel en die hele stad het uitgeroep.

Lees volledige hoofstuk 1 Sh'mu'el 4