hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Sh'mu'el 20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Toe het Dawid gevlug vanaf die blyplekke by Ramah en by Y’honatan gekom en gevra: “Wat het ek gedoen? Wat is my oortreding en wat is my sonde voor jou vader, dat hy my lewe soek?”

2. Hy sê vir hom: “’n Verwerplike gedagte! Jy sal nie sterf nie. Let op, my vader doen geen ding, klein of groot, sonder om dit aan my te openbaar nie. Waarom sou my vader dan hierdie saak vir my wegsteek? Dit is nie so nie!”

3. Toe sweer Dawid weer en sê: “Jou vader weet baie goed dat ek guns in jou oë gevind het en hy het gesê: ‘Moenie dat Y’honatan dit weet nie, anders sal hy bedroef wees,’ maar so waar as יהוה leef en jyself leef, daar is skaars ’n tree tussen my en die dood!”

4. Toe sê Y’honatan vir Dawid: “Wat jy ook al sê, sal ek vir jou doen.”

5. Toe sê Dawid vir Y’honatan: “Let op, môre is dit nuwemaan en ek is veronderstel om saam met die koning te eet, maar laat my gaan sodat ek myself wegsteek in die veld tot die derde sonsondergang toe.

6. As jou vader my enigsins mis, sê dan: ‘Dawid het my dringend verlof gevra om na sy stad, Beit-Legem, te hardloop, want dit is die jaarlikse offer vir die hele familie daar.

7. As hy so sê: ‘Goed,’ dan is jou dienskneg veilig, maar as hy baie kwaad word, weet dan dat hy besluit het op boosheid.

8. Bewys dan ’n guns aan jou dienskneg, want jy het jou dienskneg saam met jou in ’n verbond van יהוה gebring. As daar egter oortreding by my is, maak my dan self dood, want waarom sou jy my dan na jou vader toe bring?”

9. Y’honatan het gesê: “Wat ’n verwerplike gedagte, want as ek sekerlik agterkom dat my vader besluit het om boosheid oor jou te laat kom, sou ek jou nie daarvan vertel nie?”

10. Toe vra Dawid vir Y’honatan: “Wie sal my vertel of jou vader jou ’n harde antwoord gee?”

11. Y’honatan sê vir Dawid: “Kom, laat ons uitgaan in die veld in.” Beide van hulle het uitgegaan na die veld.

12. Toe sê Y’honatan vir Dawid: “יהוה, die God van Yisra’el, is Getuie! Wanneer ek na my vader geluister het op hierdie tyd môre of die derde dag, let op, as dit goed is teenoor Dawid, sal ek dan nie na jou toe stuur en dit aan jou openbaar nie?

13. As dit my vader plesier om jou skade aan te doen, mag יהוה so aan Y’honatan doen en ook meer, as ek dit nie aan jou bekendmaak en jou wegstuur nie sodat jy veilig kan gaan. Mag יהוה by jou wees soos Hy by my vader was.

14. As ek dan nog lewe, sal jy my nie die liefdevolle omgee van יהוה bewys dat ek nie sal sterf nie?

15. Jy sal ook vir ewig nooit jou liefdevolle omgee aan my huis onttrek nie, selfs nie wanneer יהוה elke een van die vyande van Dawid afsny van die oppervlak van die aarde af nie.”

16. So het Y’honatan ’n verbond gesluit met die huis van Dawid. “Mag יהוה dit eis van die hand van Dawid se vyande.”

17. Y’honatan het Dawid weer laat sweer as gevolg van sy liefde vir hom, want hy het hom liefgehad soos hy sy eie lewe liefgehad het.

18. Toe het Y’honatan vir hom gesê: “Môre is dit nuwemaan en jy sal gemis word, want jou sitplek sal leeg wees.

19. Wanneer jy drie dae gebly het, moet jy gou afkom en gaan na die plek waar jy jou op daardie gebeurlike dag weggesteek het en jy moet by die klip `Ezel bly.

20. Ek sal drie pyle aan die kant skiet asof ek na ’n teiken skiet

21. en let op, ek sal die jongman stuur: ‘Gaan soek die pyle!’ As ek spesifiek vir die jongman sê: ‘Let op, die pyle is dié kant van jou, kry hulle,’ kom dan, want dit is veilig vir jou en geen skade nie, so waar as יהוה leef!

22. As ek egter vir die jongman sê: ‘Let op, die pyle is anderkant jou,’ gaan, want יהוה het jou weggestuur.

23. Wat die ooreenkoms betref waaroor ons gepraat het, let op, יהוה is saam met my en jou vir ewig.”

24. Dawid het in die veld weggekruip en toe die nuwemaan kom, gaan die koning aansit om kos te eet.

25. Die koning het op sy sitplek gaan sit soos gewoonlik, die sitplek teen die muur; toe het Y’honatan op ‘n plek gaan sit en Avner het langs Sha’ul gesit, maar Dawid se plek was leeg.

26. Nogtans het Sha’ul niks gepraat op daardie dag nie, want hy het gedink: “Dit is toevallig, hy is nie rein nie, sekerlik is hy nie rein nie.”

27. Dit het gebeur op die tweede dag van die nuwemaan dat Dawid se plek leeg was. Sha’ul sê vir Y’honatan, sy seun: “Waarom het die seun van Yishai nie na die maaltyd gekom nie, nie gister of vandag nie?”

28. Y’honatan antwoord Sha’ul toe: “Dawid het my dringend verlof gevra om na Beit-Legem te gaan

29. want hy het gesê: ‘Laat my asseblief gaan, aangesien ons familie ’n offer in die stad het en my broer het my beveel om dit by te woon. As ek dan nou guns in jou oë gevind het, laat my asseblief gaan dat ek my broers kan sien.’ Hy het daarom nie na die koning se tafel toe gekom nie.”

30. Toe het Sha’ul se woede ontvlam teen Y’honatan en hy sê vir hom: “Jy, seun van ’n perverse rebelse vrou, weet ek nie dat jy die seun van Yishai kies tot jou eie skande en tot skande van jou moeder se naaktheid nie?

31. Want solank as wat die seun van Yishai op die aarde leef, sal nie jy of jou koningskap bevestig word nie; daarom, stuur nou en bring hom na my toe, want hy moet sekerlik sterf.”

32. Y’honatan het egter vir Sha’ul, sy vader, geantwoord en vir hom gesê: “Waarom moet hy gedood word, wat het hy gedoen?”

33. Toe slinger Sha’ul sy spies na hom toe om hom neer te vel. Toe het Y’honatan geweet dat sy vader besluit het om Dawid dood te maak.

34. Toe staan Y’honatan in gloeiende woede van die tafel af op en het geen kos geëet op die tweede dag van die nuwemaan nie, want hy was bedroef oor Dawid omdat sy vader hom onteer het.

35. Dit het gebeur in die oggend dat Y’honatan uitgegaan het in die veld in vir die afspraak met Dawid en ’n jongman was saam met hom.

36. Hy sê vir sy dienskneg: “Hardloop, vind nou die pyle wat ek gaan skiet.” Terwyl die jongman hardloop, skiet hy ’n pyl verby hom.

37. Toe die jongman by die plek van die pyl kom wat Y’honatan geskiet het, roep Y’honatan die jongman agterna en sê: “Is die pyl nie verby jou nie?”

38. Y’honatan roep agter die jongman aan: “Maak gou, vinnig, moenie bly nie.” Y’honatan se jongman tel die pyl op en kom na sy meester toe,

39. maar die jongman was van niks bewus nie: net Y’honatan en Dawid het van die saak geweet.

40. Toe gee Y’honatan sy wapens vir die jongman en sê vir hom: “Gaan, bring dit na die stad.”

41. Toe die jongman weg was, staan Dawid op van die suidekant af en val met sy gesig op die grond en buig drie maal. Hulle het mekaar gesoen en saam gehuil, maar Dawid het meer gehuil.

42. Y’honatan het vir Dawid gesê: “Gaan in veiligheid, in sover ons vir mekaar gesweer het in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה en gesê het: ‘יהוה sal saam met my en jou wees en saam met my nageslag en jou nageslag, vir ewig.” Toe het hy opgestaan en weggegaan, maar Y’honatan het in die stad ingegaan.