hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 29 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Verder het koning Dawid aan die hele vergadering gesê: “Hierdie Shlomo, my seun, is nog ’n jong man, tog het יהוה hom gekies uit al my seuns omdat hy wys is, met begrip en die werk wat aan hom gegee is, is nie klein nie, maar groot, want so ’n taak is nog nooit vir enige man gegee nie. Wees nou sterk en dapper, want die werk behoort aan יהוה, ons God.

2. Ek het uit al my krag en al my rykdom voorsien in alles wat nodig is vir die huis van יהוה, my God: goud vir die goue voorwerpe, silwer vir die silwer voorwerpe, koper vir die koper voorwerpe, yster vir die yster voorwerpe en hout vir die dinge van hout en seder vir die dinge van seder, asook edelgesteentes en pêrels.

3. Meer nog, alles wat nodig is vir die huis het ek uit my eie offers voorsien; ek het ook geld voorsien vir die uitgawes van die huis van my God uit my offers:

4. een miljoen talente goud, gelouterde goud, twee miljoen talente silwer, om daarmee die mure van die geboue oor te trek.

5. Goud vir die goue en silwer vir die silwer voorwerpe en vir al die werk wat deur ambagsmanne gedoen moet word sodat die werk in sy maand voltooi kan word en dat geen werk ongedaan sal bly nie, maar dat alles voltooi sal word op sy regte tyd, volgens die uitgawe daarvan.”

6. Toe het die familiehoofde, die prinse van die stamme van Yisra’el, die bevelvoerders oor ’n duisend en oor ’n honderd en die toesighouers oor die koning se werk, bymekaargekom

7. en gegee vir die diens van die huis van יהוה: vyf duisend talente goud, twee honderd duisend talente fyn tin vir die pype, twintig duisend talente silwer en sewentig duisend talente Korinthiese koper en ’n honderd duisend talente yster.

8. Hulle het verder ook goud en silwer gewilliglik gegee in die skatkamer van die huis van יהוה, deur Gershon, die tesourier.

9. Toe was al die mense van Yisra’el bly oor al die geskenke, want Dawid het dit met ’n volmaakte verstand, wil en emosie, gewilliglik voor יהוה aangebied en Dawid was ook bly met ’n groot vreugde; daarom het Dawid groot lofprysinge voor יהוה gesing.

10. Dawid het יהוה geloof voor die oë van die hele vergadering en Dawid het gesê: “Geseënd is U, יהוה, God van ons vader Yisra’el vir ewig en ewig,

11. want aan U, יהוה, behoort die grootheid en die mag en die lof en eer en die mooiheid en die majesteit, want U is die heerser oor alles wat in die hemel en op die aarde is; aan U, יהוה, behoort die koninkryk en die wysheid, die outoriteit en die kennis.

12. Beide rykdom en eer kom van U en U heers oor alles. In U hand is krag en mag en dit is in U hand om groot en sterk te maak, alle skepsele wat U geskep het.

13. Nou dank ons U, יהוה,ons God en lofprys U wonderlike Naam (Karakter en Outoriteit),

14. maar wie is ek en wat is my volk, want al my leermeesters het my geleer dat U lewenswyses ons gehelp het en U is ons versekerde verwagting, יהוה,ons God,

15. want ons is soos die spreekwoord van die wasem en die pottebakker en is vreemdelinge voor U en ’n klein volkie in die wêreld, maar U het van ouds af oor ons vaders geheers en U het hulle beveel hoe om te leef.

16. יהוה, ons God, aan U bring ons lofprysing sodat U ons kan red van almal wat ons kwaad aandoen, want die nasies verag ons en sê: ‘Waar is die God wat julle aanbid?’

17. Ek weet ook, my God, dat U die verstand, wil en emosie toets en behae het in opregtheid. Wat my betref, ek het al hierdie lofprysinge gesing uit die opregtheid van my verstand, wil en emosie. Nou het ek gesien dat U volk wat hier bymekaar is, U met ’n groot blydskap lofprys en sê:

18. “O יהוה, God van Avraham, Yitz’gak en Yisra’el, ons vaders het alles bewaar wat U ons vir ewig belowe het. Draai nou ons verstand, wil en emosie weg van boosheid dat ons nie voor U sal sondig nie en berei ons verstand, wil en emosie voor om U te aanbid.”

19. Ek, Dawid het geantwoord en gesê: “O יהוה, my God, gee aan my seun Shlomo ’n volmaakte verstand, wil en emosie, om U opdragte, U getuienisse en U instellings te hou en om al hierdie dinge te doen wat ek beveel het en om die tempel te bou waarvoor ek voorsien het, want U groot Naam (Karakter en Outoriteit) sal afgesonder en geprys word in die wêreld wat U geskep het in die teenwoordigheid van hulle wat U aanbid.”

20. Toe het Dawid aan die hele vergadering gesê: “Praat goed van יהוה, julle God.” Die hele vergadering het יהוה, die God van hulle vaders, geseën en hulle het neergebuig en יהוה aanbid en ook vir koning Dawid geseën.

21. Hulle het offers en brandoffers aan יהוה geoffer en die volgende dag ’n duisend bulle, ’n duisend ramme en ’n duisend lammers geoffer saam met hulle drankoffers en in oorvloed vir die hele Yisra’el geoffer.

22. Hulle het dié dag met groot blydskap geëet en gedrink in die Teenwoordigheid van יהוה en hulle het Shlomo, die seun van Dawid, koning gemaak en Tzadok as priester aangestel.

23. Toe het Shlomo op die troon van die koninkryk van יהוה gaan sit as koning in die plek van sy vader Dawid en hy was voorspoedig en die hele Yisra’el het hom gehoorsaam.

24. Al die magtige manne en die seuns van koning Dawid het hulle aan koning Shlomo onderwerp

25. en יהוה het Shlomo buitengewoon groot gemaak voor die oë van die hele Yisra’el en so ’n groot koninklike majesteit op hom gelê soos wat nog op geen koning van Yisra’el voor hom was nie.

26. So het Dawid, die seun van Yishai, Shlomo, sy seun, koning gemaak oor die hele Yisra’el.

27. Die tyd wat Dawid oor die hele Yisra’el regeer het, was veertig jaar. Hy het sewe jaar in Hevron regeer en drie en dertig jaar in Yerushalayim oor die hele Yisra’el en Y’hudah.

28. Dawid, die seun van Yishai het in ’n goeie ouderdom gesterf, oud en groot in wêreldse rykdom en eer en sy seun Shlomo het in sy plek geheers.

29. Die dade van koning Dawid, van die eerste tot die laaste, let op, hulle is opgeskryf in die boekrol van Sh’mu’el, die profeet en in die boekrol van Natan, die profeet en in die boekrol van Gad, die profeet,

30. saam met sy hele regering en sy mag en die tye wat oor hom en oor Yisra’el en oor al die koninkryke van die lande verbygegaan het. Dawid het gedoen wat goed was in die Teenwoordigheid van יהוה en in niks van Sy opdragte aan hom, oortree nie.