Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 28:1-8 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Dawid het al die prinse van Yisra’el, die prinse van die stamme en die bevelvoerders van die afdelings wat die koning bedien, die bevelvoerders oor ’n duisend en oor ’n honderd en oppassers van al die koning en sy seuns se besittings en vee, saam met die offisiere en die dapper magtige manne, bymekaar laat kom en hulle het na Yerushalayim gekom.

2. Toe sê hy vir hulle: “Luister na my, my broers en my volk! Ek self het dit in my gehad om ’n huis van rus vir die ark van die verbond van יהוה te bou en as blyplek vir ons God en ek het alles voorberei vir die bou van die huis,

3. maar יהוה het vir my gesê: ‘Jy mag nie vir My Naam (Karakter en Outoriteit) ’n huis bou nie, want jy is ’n man van oorlog en het baie bloed vergiet.’

4. Nietemin, יהוה, die God van Yisra’el, het my uit my vader se huis gekies om vir altyd koning oor Yisra’el te wees, want Hy het uit die huis van Y’hudah die koning gekies en uit die stam van Y’hudah, my familie en vanuit die seuns van my vader het Hy my gekies om koning oor Yisra’el te wees.

5. Uit al my seuns, want יהוה het vir my baie seuns gegee, het Hy my seun Shlomo gekies om op die troon van die koninkryk van יהוה oor Yisra’el te sit.

6. Hy het vir my gesê: ‘Jou seun Shlomo, hy sal My huis en My voorhowe bou, want Ek het hom gekies om My seun te wees en Ék sal vir hom ’n Vader wees.

7. Meer nog, Ek sal die troon van sy koninkryk vir ewig bevestig as hy voortgaan om My opdragte en My oordele te gehoorsaam, soos op hierdie dag.’

8. Nou daarom, voor die oë van die hele Yisra’el, die volk van יהוה en in die Teenwoordigheid van יהוה, ons God: onderhou en soek na al Sy opdragte sodat julle hierdie land vir ewig sal besit en dit as ’n erfenis aan julle kinders na julle vir ewig kan nalaat en dit sal nie vernietig word nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 28