Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 28:1-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Dawid het al die prinse van Yisra’el, die prinse van die stamme en die bevelvoerders van die afdelings wat die koning bedien, die bevelvoerders oor ’n duisend en oor ’n honderd en oppassers van al die koning en sy seuns se besittings en vee, saam met die offisiere en die dapper magtige manne, bymekaar laat kom en hulle het na Yerushalayim gekom.

2. Toe sê hy vir hulle: “Luister na my, my broers en my volk! Ek self het dit in my gehad om ’n huis van rus vir die ark van die verbond van יהוה te bou en as blyplek vir ons God en ek het alles voorberei vir die bou van die huis,

3. maar יהוה het vir my gesê: ‘Jy mag nie vir My Naam (Karakter en Outoriteit) ’n huis bou nie, want jy is ’n man van oorlog en het baie bloed vergiet.’

4. Nietemin, יהוה, die God van Yisra’el, het my uit my vader se huis gekies om vir altyd koning oor Yisra’el te wees, want Hy het uit die huis van Y’hudah die koning gekies en uit die stam van Y’hudah, my familie en vanuit die seuns van my vader het Hy my gekies om koning oor Yisra’el te wees.

5. Uit al my seuns, want יהוה het vir my baie seuns gegee, het Hy my seun Shlomo gekies om op die troon van die koninkryk van יהוה oor Yisra’el te sit.

6. Hy het vir my gesê: ‘Jou seun Shlomo, hy sal My huis en My voorhowe bou, want Ek het hom gekies om My seun te wees en Ék sal vir hom ’n Vader wees.

7. Meer nog, Ek sal die troon van sy koninkryk vir ewig bevestig as hy voortgaan om My opdragte en My oordele te gehoorsaam, soos op hierdie dag.’

8. Nou daarom, voor die oë van die hele Yisra’el, die volk van יהוה en in die Teenwoordigheid van יהוה, ons God: onderhou en soek na al Sy opdragte sodat julle hierdie land vir ewig sal besit en dit as ’n erfenis aan julle kinders na julle vir ewig kan nalaat en dit sal nie vernietig word nie.

9. Jy, my seun Shlomo, ken alles wat יהוה, ons God, ons beveel het en dien Hom met ’n volmaakte verstand, wil en emosie en met ’n gewillige lewe, want יהוה weet alles wat in die verstand, wil en emosie is en verstaan al die verbeeldings van die gedagtes van die mens. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind, maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd wegstoot.

10. Weet nou en let op, יהוה het jou gekies om ’n huis vir die Afgesonderde Plek van die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה te bou; wees onveranderlik sterk, wees dapper en doen dit.”

11. Dawid het aan sy seun Shlomo die planne gegee van die stoepe en die mates van die huis en van sy skatkamers en van sy boonste vertrekke, die binneste en buitenste portale, die boonste en onderste portale;

12. asook ’n plan vir die skatkamers en vir die kamers van diens van die huis van יהוה en die kamers van die kokke en die huisknegte en die kamers van hulle wat in beheer is van die lampe;

13. ook van die afdelings van die priesters en die Leviete en vir al die dienswerk in die huis van יהוה en vir al die gereedskappe vir die diens in die huis van יהוה.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 28