Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8:31-44 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

31. As ’n mens teen sy naaste sondig en gedwing word om ’n eed te neem en hy voor U altaar in hierdie huis ’n eed neem,

32. hoor dan in die hemel en tree op en oordeel U diensknegte, veroordeel die wettelose deur sy optrede op sy eie kop te bring en verklaar die onpartydig opregte onskuldig deur vir hom te gee volgens sy onpartydige opregtheid.

33. Wanneer U volk Yisra’el verslaan word voor ’n vyand omdat hulle teen U gesondig het; as hulle weer na U toe draai en U Karakter en Outoriteit (Naam) erken en tot U bid en smeek in hierdie huis,

34. hoor dan in die hemel en vergewe die sonde van U volk Yisra’el en bring hulle terug na die land wat U aan hulle vaders gegee het.

35. Wanneer die hemel toegesluit is en daar geen reën is nie omdat hulle teen U gesondig het en hulle na hierdie plek toe bid en U Karakter en Outoriteit (Naam) erken en van hulle sonde af wegdraai wanneer U hulle teister,

36. hoor dan in die hemel en vergewe die sonde van U diensknegte en van U volk Yisra’el, inderdaad, leer hulle die goeie pad waarin hulle moet loop en stuur reën op U land, wat U aan U volk as ’n erfenis gegee het.

37. As daar hongersnood in die land is, as daar pes is, as daar skimmel, heuningdou, sprinkane of grassprinkane is, as sy vyande hom in die land, in sy poorte beleër, watter plaag ook al, watter siekte daar ook al is,

38. watter gebed of smeking ook al deur enige een of deur die hele volk Yisra’el gemaak word, laat elkeen die leed van sy eie verstand, wil en emosie ken en sy hande na hierdie huis toe uitsprei;

39. hoor dan in die hemel, U blyplek en vergewe en tree op en doen aan elkeen volgens al sy optrede, wie se verstand, wil en emosie U ken, want U alleen ken die verstand, wil en emosie van al die seuns van die mens

40. sodat hulle U respekvol kan vrees al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het.

41. Ook aangaande die vreemdeling wat nie van U volk Yisra’el is nie, wanneer hy vanaf ’n ver land ter wille van U Karakter en Outoriteit (Naam) kom,

42. want hulle sal hoor van U groot Naam (Karakter en Outoriteit), U magtige hand en U uitgestrekte arm; wanneer hy voor U sal kom en bid in hierdie huis,

43. hoor dan in die hemel, U blyplek en doen volgens alles waaroor die vreemdeling na U toe uitroep sodat al die volke van die aarde ’n verbondsverhouding met U Naam (Karakter en Outoriteit) mag hê, om U respekvol te vrees, net soos U volk Yisra’el en dat hulle mag weet dat hierdie huis wat ek gebou het, by U Naam (Karakter en Outoriteit) genoem word.

44. Wanneer U volk uitgaan om oorlog te maak teen hulle vyand, op watter pad U hulle ook al stuur en hulle bid tot יהוה in die rigting van die stad wat U verkies het en die huis wat ek vir U Naam (Karakter en Outoriteit) gebou het,

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 8