Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 14:1-15 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. In daardie tyd het Aviyah, die seun van Yarov’am, siek geword.

2. Yarov’am het vir sy vrou gesê: “Staan op en vermom jouself sodat hulle nie kan weet dat jy Yarov’am se vrou is nie en gaan na Shiloh; let op, Agiyah die profeet is daar, wat van my gesê het dat ek koning oor hierdie volk sou wees.

3. Vat tien brode, koeke en ’n houer met heuning saam met jou en gaan na hom toe. Hy sal vir jou vertel wat met die jongman sal gebeur.”

4. Yarov’am se vrou het so gedoen, opgestaan en na Shiloh gegaan en by die huis van Agiyah gekom. Agiyah kon nie sien nie, want sy oë was dof vanweë sy ouderdom.

5. יהוה het vir Agiyah gesê: “Let op, die vrou van Yarov’am kom om jou te raadpleeg oor haar seun, want hy is siek; so en so moet jy vir haar sê, want dit sal wees dat as sy kom, sy sal voorgee om ’n ander vrou te wees.”

6. Toe Agiyah die geluid van haar voete hoor toe sy by die deur inkom, sê hy: “Kom in, vrou van Yarov’am! Waarom gee jy voor om ’n ander vrou te wees? Ek is na jou gestuur met ’n harde boodskap.

7. Gaan sê vir Yarov’am: ‘So sê יהוה, die God van Yisra’el: aangesien Ek jou van tussen die mense af opgelig en jou leier oor My volk Yisra’el gemaak

8. en die koninkryk van die huis van Dawid af weggeskeur en dit vir jou gegee het; [tog was jy nie soos My kneg Dawid, wat opdragte gehou en My met sy hele verstand, wil en emosie gevolg het, om net te doen wat reg is in My oë, nie;

9. jy het ook meer boosheid gedoen as almal wat voor jou was en vir jou ander gode en gegote beelde gaan maak om My te tart tot woede en My agter jou rug gegooi]

10. daarom, let op, Ek bring onheil oor die huis van Yarov’am en sal van Yarov’am af afsny al wat manlik is in Yisra’el, beide slaaf en vryman en Ek sal die huis van Yarov’am skoonvee soos ’n mens mis wegvee totdat daar niks van oor is nie.

11. Enige een wat aan Yarov’am behoort wat in die stad sterf, hom sal die honde eet en hom wat in die veld sterf, sal die voëls van die hemel eet, want יהוה het dit gesê.’

12. Staan op, gaan na jou huis toe. Wanneer jou voete die stad ingaan, sal die seun sterf.

13. Die hele Yisra’el sal oor hom rou en hom begrawe, want hy alleen van Yarov’am se familie sal na die graf toe kom omdat in die huis van Yarov’am in hom iets goeds gevind is teenoor יהוה, die God van Yisra’el.

14. Meer nog, יהוה sal vir Homself ’n koning oor Yisra’el opwek wat die huis van Yarov’am op dié dag sal uitwis en van nou af aan.Deut 16:21-22

15. יהוה sal Yisra’el slaan, soos ’n riet in die water heen en weer geskud word en Hy sal Yisra’el ontwortel uit hierdie goeie land uit wat Hy vir hulle vaders gegee het en hulle anderkant die Rivier (Eufraat) verstrooi omdat hulle hul Asherah beelde gemaak en יהוה tot woede getart het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 14