Ou Testament

Nuwe Testament

Yoganan 6:53-60 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

53. Yeshua sê vir hulle: “Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: as julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en Sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.

54. Wie ook al van My liggaam eet en My bloed drink, het die ewige lewe en Ek sal hom laat opstaan in die laaste dag,

55. want My liggaam is ware kos en My bloed is ware drank.

56. Wie My liggaam eet en My bloed drink, bly in My en Ek in hom.

57. Net soos die Lewende Vader My gestuur het en Ek as gevolg van die Vader lewe, net so sal hy wat My eet, ook as gevolg van My lewe.

58. Hierdie is die Brood wat vanuit die hemel afgekom het; nie soos julle vaders wat die ‘man hu’ geëet en doodgegaan het nie; wie hierdie Brood eet, sal tot in ewigheid lewe.”

59. Hierdie dinge het Hy in die bymekaarkomplek gesê toe Hy in K’far-Nagum lering gegee het.

60. Baie van Sy studentevolgelinge wat gehoor het, het gesê: “Hierdie boodskap is moeilik, wie kan dit verstaan?”

Lees volledige hoofstuk Yoganan 6