Ou Testament

Nuwe Testament

Yoganan 4:39-51 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

39. Baie van die mense van Shomron, uit daardie stad, het in Hom vertrou as gevolg van die boodskap van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.”

40. Toe die mense van Shomron by Hom kom, het hulle Hom gevra om by hulle te bly en Hy het twee dae daar gebly.

41. Baie het op grond van Sy boodskap vertrou

42. en aan die vrou gesê: “Ons vertrou nie nou op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik Die Gesalfde Een, die Lewegewer van die wêreld, is.”

43. Ná die twee dae het Hy van daar af weggegaan na die Galil toe,

44. want Yeshua self het getuig dat ’n profeet nie in sy eie stad eer ontvang nie.

45. Toe Hy in die Galil kom, het die mense van die Galil Hom ontvang omdat hulle al die wonderwerke gesien het wat Hy in Yerushalayim op die fees gedoen het, want hulle het ook na die fees gegaan.

46. Yeshua het weer in Kanah, in die Galil, gekom, waar Hy die water wyn gemaak het en ’n sekere koning se dienskneg, wie se seun siek was, het in K’far-Nagum gebly.

47. Hy het gehoor dat Yeshua vanuit Y’hudah in die Galil aangekom het en na Hom toe gegaan en Hom gesmeek om af te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê.

48. Yeshua sê vir hom: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit vertrou nie.”

49. Die koning se dienskneg sê vir Hom: “My Meester, kom af, anders sal die kind sterf.”

50. Yeshua antwoord hom: “Gaan, jou seun lewe!” Die man het dit wat Yeshua vir hom gesê het, vertrou en hy het gegaan.

51. Terwyl hy op pad was huis toe, kom sy slaaf hom tegemoet en bring die goeie nuus en sê: “U seun leef!”

Lees volledige hoofstuk Yoganan 4