Ou Testament

Nuwe Testament

Yoganan 4:34-49 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

34. Yeshua sê vir hulle: “My persoonlike kos is om die wil te doen van Hóm wat My gestuur het en om Sy werk te voltooi.

35. Sê julle nie: ‘Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie?’ Let op, Ek sê vir julle, lig julle oë op en kyk na die lande, dat hulle nou reeds wit is van die oes.

36. Wie ook al oes, ontvang beloning en vergader vrug vir die ewige lewe en die een wat saai en die een wat oes sal saam bly wees,

37. want hierin is ’n woord van waarheid: ‘Die een saai en ’n ander oes.’

38. Ek het julle gestuur om dit waarvoor julle nie gewerk het nie te oes, maar ander het gewerk en julle het ingekom op hulle werk.”

39. Baie van die mense van Shomron, uit daardie stad, het in Hom vertrou as gevolg van die boodskap van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.”

40. Toe die mense van Shomron by Hom kom, het hulle Hom gevra om by hulle te bly en Hy het twee dae daar gebly.

41. Baie het op grond van Sy boodskap vertrou

42. en aan die vrou gesê: “Ons vertrou nie nou op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik Die Gesalfde Een, die Lewegewer van die wêreld, is.”

43. Ná die twee dae het Hy van daar af weggegaan na die Galil toe,

44. want Yeshua self het getuig dat ’n profeet nie in sy eie stad eer ontvang nie.

45. Toe Hy in die Galil kom, het die mense van die Galil Hom ontvang omdat hulle al die wonderwerke gesien het wat Hy in Yerushalayim op die fees gedoen het, want hulle het ook na die fees gegaan.

46. Yeshua het weer in Kanah, in die Galil, gekom, waar Hy die water wyn gemaak het en ’n sekere koning se dienskneg, wie se seun siek was, het in K’far-Nagum gebly.

47. Hy het gehoor dat Yeshua vanuit Y’hudah in die Galil aangekom het en na Hom toe gegaan en Hom gesmeek om af te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê.

48. Yeshua sê vir hom: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit vertrou nie.”

49. Die koning se dienskneg sê vir Hom: “My Meester, kom af, anders sal die kind sterf.”

Lees volledige hoofstuk Yoganan 4