Ou Testament

Nuwe Testament

Yoganan 21:1-14 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Na hierdie dinge het Yeshua weer aan Sy studentevolgelinge verskyn by die see van Tiberias. Só het Hy verskyn:

2. Shim’on Kefa, T’oma, (wat Tweeling genoem is), Natan’el van Kanah in die Galil, die seuns van Zavdai en twee ander van Sy studentevolgelinge was saam.

3. Shim’on Kefa sê vir hulle: “Ek gaan visvang.” Hulle sê vir hom: “Ons kom saam met jou.” Hulle het dadelik uitgegaan en in die boot geklim en in daardie nag het hulle niks gevang nie.

4. Met dagbreek staan Yeshua op die strand, maar die studentevolgelinge het nie gesien dat dit Yeshua was nie.

5. Yeshua vra vir hulle: “Seuns, het julle enige iets om te eet?” Hulle antwoord Hom: “Nee.”

6. Hy sê vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die boot en julle sal kry.” Hulle het ingegooi en as gevolg van die hoeveelheid visse kon hulle dit nie intrek nie.

7. Daarop sê die studentevolgeling, die een vir wie Yeshua liefgehad het, vir Kefa: “Dit is ons Meester!” Toe Shim’on Kefa hoor dat dit ons Meester is, trek hy sy bokleed aan en maak sy lende vas, want hy was kaal en gooi homself in die see om na Yeshua te gaan,

8. maar die ander studentevolgelinge het met die boot gekom en die net met die visse gesleep, want hulle was nie ver van die land nie, omtrent ’n honderd meter.

9. Toe hulle geland het, sien hulle brandende kole met vis en brood daarop uitgesit.

10. Yeshua sê vir hulle: “Bring van die visse wat julle nou-net gevang het.”

11. Shim’on Kefa het in die skuit geklim en die net op die land getrek, honderd drie en vyftig groot visse en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.

12. Yeshua sê vir hulle: “Kom eet!” Niemand van die studentevolgelinge het gewaag om Hom te vra: “Wie is U?” nie omdat hulle geweet het dat Hy ons Meester was.

13. Yeshua het gekom en die brood en die vis gevat en dit vir hulle gegee.

14. Dit was die derde keer dat Yeshua aan Sy studentevolgelinge verskyn het nadat Hy opgestaan het uit die dood.

Lees volledige hoofstuk Yoganan 21