Ou Testament

Nuwe Testament

Yoganan 13:11-26 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

11. want Yeshua het geweet wie Hom sou oorgee; daarom het Hy gesê: ‘Julle is nie almal skoon nie.’

12. Nadat Hy hulle voete gewas en Sy bo-klere aangetrek het, het Hy weer aan tafel gaan skuinslê en vir hulle gesê: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?

13. Julle noem My ‘Leermeester’ en ‘My Meester,’ en dit is reg so, want Ek is dit.

14. As Ek dan, julle Leermeester en julle Meester, julle voete gewas het, hoeveel te meer moet julle nie mekaar se voete was nie,

15. want hierdie voorbeeld het Ek vir julle gegee sodat net soos Ek aan julle gedoen het, net so moet julle ook doen.

16. Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: daar is nie ’n slaaf groter as sy meester nie en ook nie ’n afgevaardigde groter as die een wat hom gestuur het nie.

17. As julle hierdie dinge verstaan, is julle geseënd as julle dit doen.Ps 41:10

18. Ek praat nie van julle almal nie, want Ek weet wie Ek gekies het, maar dat die Skrif vervul kan word: ‘Hy wat saam met My brood eet, het sy hakskeen teen My opgelig.’Eks 3:14

19. Van nou af sê Ek dit aan julle voordat dit gebeur sodat wanneer dit gebeur, julle kan vertrou: אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees.

20. Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.”

21. Nadat Yeshua dit gesê het, het Hy in Sy Gees kragtig ontsteld geword en getuig en gesê: “Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: een van julle sal My uitlewer.”

22. Hierop het die studentevolgelinge na mekaar gekyk omdat hulle nie geweet het van wie Hy dit gesê het nie.

23. Een van Sy studentevolgelinge, hy vir wie Yeshua liefgehad het, het aan die tafel teen die bors van Yeshua aangelê.

24. Shim’on Kefa beduie vir hom dat hy moet uitvind wie dit is van wie Hy praat

25. en hy het teen die bors van Yeshua geval en vir Hom gesê: “My Meester, wie is dit?”

26. Yeshua antwoord en sê: “Dit is die een aan wie Ek die stukkie brood sal gee as Ek dit ingedoop het.” Hy doop die stukkie brood in en gee dit aan Y’hudah, die seun van Shim’on, van K’riot.

Lees volledige hoofstuk Yoganan 13